
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou, sê hoewel oorstromings en swaar neerslae van plek tot plek voorgekom het en voorspellings dié seisoen “baie onbetroubaar” is, dui weermodelle steeds aan dat ondergemiddelde reënval oor groot dele van die somerreënvalstreek kan voorkom.
Volgens Van den Berg is vooruitsigte vir opvolgreën oor veral die sentrale, westelike en suidelike dele van die land tot volgende maand negatief. Dit is as gevolg van ’n sterk tropiese laagdrukstelsel sedert 17 Februarie oor Mosambiek en die aangrensende Indiese Oseaan. Die stelsel gaan reënvalpatrone vir ten minste die res van Februarie ontwrig.
“In hierdie stadium dui weermodelle aan dat swaar reën kan voorkom oor die kusgebiede en binneland van Mosambiek, noordoostelike dele van die Suid-Afrika, Zimbabwe en dele van Botswana.”
Van den Berg sê is dit nog onduidelik in watter rigting die laagdrukstelsel sal beweeg en dus hoe ver oor die binneland dit ’n uitwerking gaan uitoefen. “Swaar neerslae is moontlik oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika in die tweede deel van Februarie as gevolg van die stelsel. Droër toestande word egter verwag oor die sentrale en veral westelike dele van die land tot ten minste die tweede week in Maart.”
Meer as 250 mm binne dae
Dele in en rondom Bloemfontein het verlede week binne drie dae tot 250 mm reën gemeet, hoewel daar in ander dele van die Vrystaat slegs enkele millimeters gemeet is.
“Van Woensdag af het amper die helfte van die Bloemfontein se jaarlikse reënval van sowat 520 mm binne ’n paar dae uitgesak,” sê Van den Berg. In die westelike dele net buite die stad het water Maandag, twee dae ná die swaar neerslae, steeds uit landerye gestroom.
Volgens eNCA het 294 mm binne 24 uur verlede Woensdag in die distrik Tshanowa in Limpopo uitgesak.
Extreme rainfall amounts reported overnight over eastern Limpopo with more than 200mm on the escarpment at #Thohoyandou and #Tshanowa. More rain expected in the coming days. #eNCA pic.twitter.com/euXMbhQdWe
— eNCAWeather (@eNCAWeather) February 14, 2019
El Niño en groeitemperature
Van den Berg sê die Enso (El Niño Suidelike Ossillasie)-indeks en die Indiese Oseaan-dipool (IOD) verkeer albei in neutrale fases. “Kanse dat die verwagte El Niño-stelsel kan herontwikkel, is egter steeds bogemiddeld.”
Die verwagte droër toestande vir die res van Februarie en Maart kan help om meer hitte-eenhede te laat opbou vir somergewasse, hoewel dit die risiko vir droogteskade verhoog. Wat die risiko van ryp betref, sê Van den Berg veral aanplantings in die Noordwes-Vrystaat wat ná einde Desember gedoen is, het ’n redelik risiko vir rypskade voor middel April. Die ryprisiko is heelwat laer oor Noordwes, met ’n baie lae ryprisiko voor einde April.