
“Die Tuinroete-biosfeerreservaat konsentreer op volhoubare ontwikkeling deur landskapswye koördinasie en strategiese medebestuur van ons natuurlike hulpbronne om die basis van ’n gesonde ekonomie te vorm,” sê dr. Bianca Currie, uitvoerende hoof van die reservaat.
Die wêreldnatuurlewefonds (WWF) Nedbank Groentrust het finansiering bygedra vir die aanvanklike ontwikkeling van die reservaat, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat in Junie 2017 deur die Verenigde Nasies se opvoedkundige wetenskaplike en kultuur organisasie erken is.
Die reservaat strek oor ’n area van bykans 700 000 ha, van die kuslyn suid van die George-lughawe in die Wes-Kaap al langs die Tuinroete af, tot by Jeffreysbaai en St. Francisbaai in die Oos-Kaap.
Currie en haar span kon sedert 2021, in die tydperk waar die WWF Nedbank Groentrust finansiering vir die projek gegee het, ’n sterk werkgroep van 40 kenners vestig, met ’n spesifieke klem op die mitigeer van waterrisiko’s en -bestuur in die area. Die werkgroep sluit in belangrike waterbesluitnemers, staatsinstellings, munisipaliteite, die departement van water en sanitasie, besproeiingsrade, die Suid-Afrikaanse nasionale parke, CapeNature en bedryfsbelanghebbendes soos MTO Forestry en PG Bison.
Waterbestuur
“Ons ontwikkel ’n stelsel van samewerkende bestuur om skoon waterverskaffing en omgewingsintegriteit van prioriteitsareas in die reservaat wat is deur die groep bepaal is, te verseker,” sê Currie.
Dít sluit die werking van waterrentmeesterskap en indringer-skoonmaakprojekte in sleutelopvangsgebied in, om skoon water beskikbaar te stel as ’n belangrike ekostelseldiens aan die streek se ekonomie.
Twee strategiese waterbronareas, die Outeniqua en die Tsitsikamma, oorvleuel gedeeltelik met die reservaat, wat in pas is met albei se bewaringsinisiatiewe.
Die Outeniqua verskaf water aan die grootste deel van die Tuinroete, insluitend George en Mosselbaai, terwyl die Tsitsikamma water aan Uitenhage, die Langkloof en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit verskaf.
“Die ekonomiese belang van die waterbronareas is vanselfsprekend.”
Waterskaarsheid en wegholbrande is van die grootste probleme in die reservaat, met indringerbome wat die grootste probleem skep. Veral swartwattel en dennebome skep probleme in die opvang- en rivierareas, want dit neem onder meer groot hoeveelhede water op, verminder biodiversiteit en bied brandstof vir fel, warm brande. Daarby ervaar die waterbronareas in die Suid-Kaap ernstige probleme met weens grondagteruitgang en klimaatsverandering.
Saamwerk
Die doel van die projek is om belanghebbendes bymekaar te bring en om saam te leer en bestuur.
“Dit gaan oor die gekoördineerde en samewerkende aksie, asook die koesterende omgee en rentmeesterskap vir ons natuurlike hulpbronne, wat dus die verbeterde sekuriteit van die Outeniqua- en Tsitsikamma-waterbronareas moontlik maak en ’n basis skep vir toekomstige waterbronvennootskappe.
Ekonomiese volhoubaarheid
“ ’n Saak wat ons moet aanpak, is uitermatige en onwettige wateronttrekking. Nog ’n probleem is besoedeling met onkruiddoders, nywerheidsafloop en huishoudelike afval wat in riviere vloei en uiteindelik in riviermondingomgewings beland, asook waterinfrastruktuur wat agteruitgaan en beurtkrag, aangesien onbetroubare krag beteken dat rioolaanlegte begin oorloop in plaaslike riviere.”
Dit lei tot ’n toename van hoë vlakke van Escherichia coli wat in die see beland, wat weer gevare inhou vir die gesondheid en status van strande en toerisme benadeel. Met bykans 500 000 mense wat in die gebied woon, is daar ook al meer maatskaplike druk op waterbronne.
“Die volgende fase van die projek het ten doel om ’n burgerlike wetenskapkomponent te vestig om by te staan met die monitering en evaluasie van die waterstelsels in die landskap. Ons langtermyndoelwit is volhoubare waterbronareas en ’n aansienlik verbeterde omgewing en ekonomie danksy die werk wat die reservaat koördineer.”