
Twee plaasaanvalle is sedert gister in die Vrystaat aangemeld, en twee boere is tydens afsonderlike voorvalle vermoor.
Mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, sê mnr. Johan Prinsloo (73) is op sy plaas in die distrik Koppies deur ’n man doodgeskiet. Prinsloo het glo teruggeskiet, maar hy het nie die verdagte getref nie.
Die verdagte het van die toneel gevlug en Prinsloo se werkers het hulp ontbied, waarna die plaaslike veiligheidplan in werking gestel is. Die polisie se lugveuel is onder meer ontplooi om te help soek na die verdagte. Die verdagte is opgespoor. Hy het op die polisie geskiet waarna hy doodgeskiet is.
Le Roux sê mnr. Christian van Tonder (29), wat in die distrik Lindley geboer het, is ook vermoor. Volgens ’n berig op Netwerk24 is Van Tonder se liggaam gisteraand deur die polisie gevind toe polisiebeamptes ondersoek ingestel het na ’n stilstaande bakkie wat langs die R59 in die Marlbank-gebied in Barrage in Gauteng gestaan het. Die geld wat Van Tonder vir ’n veetransaksie betaal is, was skoonveld.
In nog ’n plaasaanval gister in die distrik Bothaville is mnr. Godfrey Venter op sy plaas deur 10 verdagtes aangeval. Sy vrou en dogter was ook tydens die aanval omstreeks 09:00 tuis. Die Venters is vasgebind en aangerand terwyl die verdagtes op kontant aangedring het. Le Roux sê die verdagtes het geweet waar in die huis geld was, en die vermoede bestaan dat hulle deur iemand daaroor ingelig is.
Die verdagters het glo senuagtig geraak en met Venter se bakkie op die vlug geslaan. Venter se dogter kon loskom en het hulp ontbied. Die plaaslike veiligheidstruktuur is in werking gestel, en die voertuig en twee verdagtes is by Bothaville opgespoor. Hulle is in hegtenis geneem. Die ander verdagtes word nog gesoek.
Al drie die sake word deur die polisie ondersoek.
*Jy kan hier meer lees oor die sake en rolspelers se reaksie daarop.
Le Roux het ’n versoek tot boere gerig om met die naderende feestyd meer paraat te wees, en om seker te maak dat hul veiligheidsplanne ingeoefen is. Hy sê dit is opmerklik dat die twee plaasaanvalle vroeg in die oggend plaasgevind het. “Vinnige optrede van al die belanghebbendes binne die plaaslike veiligheidplan is belangrik, en het in die twee gevalle resultate gelewer.”
Le Roux is vol lof vir polisiebeamptes wat te midde van moeilike omstandighede steeds hard werk en hul rol in veiligheidsplanne vervul. “Daar is probleme, maar ons het beamptes wat baie hard werk om ons te ondersteun.”