
Vir die landbou is daar nog ’n paar uitstaande kwessies in die wetsontwerp, veral met betrekking tot die definisie van onteiening en die konsep van nulvergoeding, sê me. Annelize Crosby, hoof van regsintelligensie by Agbiz, en me. Andrea Campher, bestuurder van Agri SA se risiko-en-rampeenheid.
“Die definisie van onteiening is steeds problematies,” sê Crosby. “Die wetsontwerp definieer onteiening as die verpligte verkryging van eiendom deur ’n owerheid wat onteien, of ’n staatsinstelling op versoek van ’n onteienende owerheid vir ’n openbare doel of in die openbare belang.”
Volgens haar is dit nie ’n verbetering op die vorige bewoording nie, en maak dit nie voorsiening vir ’n oordrag na derde partye nie.
“Soos die definisie nou lees, sal die neem van ’n eiendom slegs as ’n onteiening beskou word, en dus vir vergoeding in aanmerking kom, as die eiendom deur die onteienende owerheid of namens ’n staatsinstelling verkry word.
“Die definisie plaas ’n beperking op wat as ’n onteiening beskou kan word en dis op ’n manier ’n poging om artikel 25 van die Grondwet te interpreteer.”
Ook Campher sê die voorgestelde definisie beperk onteiening tot gevalle waar die staat eiendomsreg bekom en sluit konstruktiewe onteiening uit. Agri SA se standpunt is dat ’n definisie van onteiening omvattend genoeg moet wees om alle moontlike permutasies van onteiening, soos internasionaal deur howe erken, in te sluit.
“Die gevaar van so ’n enge definisie soos tans in die wetsontwerp is dat dit ’n gaping laat vir staatsoptrede wat eiendomsreg sonder vergoeding ernstig kan beperk.”
‘Nulvergoeding’ oop vir misbruik
Crosby sê klousule 12(3) en (4) wat te doen het met die moontlikheid dat nulvergoeding toegeken kan word, is nie duidelik genoeg met betrekking tot die feit dat onteiening as billik én regverdig voor ’n hof bewys moet kan word en op die lys van faktore van toepassing moet wees nie.
“Die lys van situasies waarin nulvergoeding toegeken word, is ’n oop lys. Dit beteken dat nulvergoeding toegeken kan word in gevalle anders as dié lys van vyf faktore.”
Die vyf faktore waarvolgens nulvergoeding toegeken kan word, sluit die volgende in, maar is volgens die wetsontwerp “nie beperk tot” gevalle waar:
- die grond nie gebruik word nie en die eienaar se hoofdoel nie is om die grond te ontwikkel of dit te gebruik om ’n inkomste daaruit te genereer nie, maar om voordeel te trek uit die eiendom se waardevermeerdering,
- ’n staatsinstelling grond besit wat nie vir sy kernfunksies gebruik word nie en dit redelikerwys onwaarskynlik is dat dit die grond in die toekoms sal benodig,
- ’n eienaar die grond verlaat deur in gebreke te bly om dit te bestuur, al het hy eienaarskap ingevolge van die Wet op die Registrasie van Akte,
- die markwaarde van die grond dieselfde is of minder is as die huidige waarde van direkte staatsinvestering of -subsidie in die verkryging en kapitaalverbetering van die grond,
- die aard en toestand van die eiendom ‘n gesondheids-, veiligheids- of fisieke risiko vir mense of ander eiendom is.
Crosby meen dié klousules is problematies en moet geherformuleer word of geskrap word omdat albei misbruik kan word.
Artikels 12(3) en 12(4)
Campher sê die belangrikste kwessie by grondhervorming is nie noodwendig vergoeding nie, maar eerder hoe die proses geadministreer word.
“Die nuwe klousule 12(3) maak voorsiening vir nulvergoeding, iets wat in sekere gevalle as billik en regverdig beskou kan word, dog die internasionale beginsel van gelykheid by die dra van openbare laste, maak net in baie buitengewone gevalle voorsiening vir nulvergoeding.
“Die Grondwet maak voorsiening dat die howe alle faktore kan oorweeg en by nulvergoeding kan uitkom. Dit sal egter in hoogs uitsonderlike gevalle wees.”
Wetgewing wat nulvergoeding in gespesifiseerde gevalle moontlik maak, skep ook verwagtinge.
Hoewel daar ’n lys van die spesifieke kategorieë van grond wat teen nulvergoeding onteien kan word, in die wetsontwerp is, is dit duidelik uit die bewoording van klousule 12(3) dat enige grond wat in die openbare belang onteien word, ’n kandidaat vir nulvergoeding is.
Verder, hoewel lede van Agri SA gewoonlik die grond wat hulle besit, produktief gebruik, kan die organisasie nie die vat van grond wat nié gebruik word teen nulvergoeding ondersteun nie, sê Campher. “Die subklousule is te wyd en behoort verwyder te word.”
Eweneens is die konsep van grond wat verlaat is deur in gebreke te bly om dit te bestuur, problematies. “Die begrip van verlating is vaag en daar kan omstandighede wees waar ’n grondeienaar gedwing word om die grond te verlaat, soos in die geval van ’n ramp of ’n grondbesetting.”
Agri SA is ook van mening dat daar sekere probleme is wat nie deur nulvergoeding opgelos sal word nie, maar eerder deur die toepassing van bestaande wetgewing.
Mense wat op die wetsontwerp wil kommentaar lewer, kan dit op die skakel https://forms.gle/PTNQaCjRyEzVcvVa8 doen.
Navrae: Mnr. Hlupheka Mtileni, expropriationcomments@parliament.gov.za.
Die sluitingsdatum vir kommentaar is Maandag 6 Maart.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.