
Twee verdagtes het in die landdroshof op Ventersburg verskyn op aanklagte van veediefstal nadat hulle op 12 Maart in hegtenis geneem is. Hul aansoek om borgtog word op 21 Maart aangehoor.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die polisie op Ventersburg het ingeligting oor ’n verdagte voertuig ontvang. Die voertuig is ondersoek terwyl die verdagtes na ’n vulstasie gegaan het om brandstof te koop. Met hul terugkeer het die polisiebeamptes hulle uitgevra oor die skape in die voertuig.
Die verdagtes kon nie die nodige dokumente om in die besit van vee te wees verskaf nie. Daar is vasgestel dat die ses skape in die voertuig by Senekal gesteel is. Brandmerke is op die skape gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op hul voertuig.
NOORDWES
Intussen is Keamogetswe Tshepiso Maano (41) op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat sy gister (14 Maart) in die Atamelang-landdroshof verskyn het. Sy moet op 23 Maart weer in dieselfde hof verskyn. Maano se man, wat ook van veediefstal beskuldig word, het in absentia verskyn aangesien hy tans in die hospitaal is.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle tussen 15 en 17 Mei verlede jaar 11 beeste in die omgewing van Atamelang gesteel het. Beeste wat met die beskrywing van die gesteelde beeste ooreenstem, is op 21 Mei verlede jaar met veranderde brandmerke by Geysdorp gevind. Die beeste is geskut vir verdere ondersoek.
’n Ondersoek deur Sannieshof se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies het vasgestel dat die beeste gesteel is. Die verdagtes is op 11 Maart vanjaar in hegtenis geneem.
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris vir Noordwes, versoek boere om hul vee te brandmerk.