
Vinnige reaksie deur lede van die polisie, ’n plaaslike sekuriteitsgroep en ’n buurtwag het daartoe bygedra dat gesteelde skape in die distrik van Bloemfontein terug gevind is.
Altesaam 35 skape wat agterop ’n bakkie bo-op mekaar gestapel is, is in Olive Hill gekry. ’n Gesamentlike soektog deur die betrokkenes het gelei tot die inhegtenisneming van een verdagte, waarna verdere inligting die polisie na fase 10 buite Bloemfontein gelei het. Nog ses skape was in die besit van die eienaar van die bakkie waarop die skape was. Twee van dié ses skape was dood.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Die eienaar van die vee is geïdentifiseer en die vee is aan die haar terugbesorg. Die 47-jarige vrou het aangemeld dat 65 skape op haar kleinhoewe gesteel is.
Volgens lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, was die heining van die kamp waar die skape aangehou is, geknip. Van die skape het gevolglik na nabygeleë kleinhoewes beweeg. ’n Soektog is begin en slegs twee van die vermiste skape kon nie opgespoor word nie.
’n Saak van besit van vermoedelik gesteelde eiendom is by die Navalsig-polisiekantoor geopen. Die twee verdagtes, onderskeidelik 40 en 47 jaar oud, is in polisie-aanhouding. Die verdagtes sal vandag (28 Maart 2022) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.