
’n Tweede landboutoer na Georgië word in April vanjaar beoog en alle belangstellendes is welkom, sê die TLU SA.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sê ná die eerste toer het sowat 120 mense reeds dié land besoek. “Ongeveer 30 boere het reeds in dié land belê of is in die proses om daar te belê,” vertel hy.
Die toer vind van 23 tot 27 April plaas. Belangstellendes word genooi om met die TLU SA in verbinding te tree vir meer inligting.
Twaalf boere
’n Groep van 12 boere het saam ’n stuk grond van 1 000 ha gekoop. Hulle voer nou spilpunte van Suid-Afrika na Georgië uit om op dié plaas te gebruik. Mnr. SW Kruger, tans in Georgië, sê hulle hoop om in April die eerste saailinge te plant.
“Ons wil nie Suid-Afrikaanse boere uitvoer nie. Dié geleentheid bied aan ons boere die kans om hul bedrywighede internasionaal uit te brei. So ons sê boere moet baie mooi dink voordat hulle soontoe immigreer,” sê Van Zyl.
’n Projek
Van Zyl sê hulle onderhandel met die Georgiaanse regering oor ’n tweede model om Suid-Afrikaners in die land se landboubedryf betrokke te kry. Dié model fokus op boere of mense wat in die verskillende landbouerigtings gekwalifiseer is, maar wat nie die geld het om self daarheen uit te brei nie.
“So ’n mens kan dan aansoek doen om vir ’n tydperk op ’n projekgrondslag op ’n plaas in Georgië teen ’n maandelikse salaris te gaan boer,” verduidelik Van Zyl. Die projek sal deur donasies, maklike lenings en dies meer gefinansier word, maar Van Zyl sê die ontwikkeling daarvan is nog in die beginstadium.
Afrika
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter, sê die organisasie beoog dieselfde tipe projek in Nigerië. Dié land se regering het sowat 30 000 ha grond vir so ’n projek toegewys. “Ons is baie opgewonde daaroor, maar nog baie beplanning moet gedoen word.”
Meintjes sê mense wat op alle vlakke van ontwikkeling in die landbou gekwalifiseer is en aan so ’n projek wil deelneem, word uitgenooi om hulle CV’s aan president@tlu.co.za te stuur.
Die organisasie is reeds deur ander Afrika-lande, soos Angola en Tanzanië, genader wat ook graag Suid-Afrikaanse boere by hulle wil ontvang.
Hou Landbouweekblad van 17 Februarie 2012 dop vir meer inligting.
2 Februarie 2012