
Die harde lesse wat die landbou gedurende die droogte geleer het, moet gebruik word om 'n plan vir slim ramphulp en -bestuur saam te stel, sodat die bedryf beter voorbereid op die volgende krisis kan wees.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het tydens die organisasie se bedryfskonferensie in Somerset-Wes gesê dié lesse moet gekombineer word met internasionale kennis om 'n doeltreffende beleid vir ramphulp saam te stel.
"Regerings en boere regoor die wêreld word met dieselfde probleme gekonfronteeer. Dit is nie nodig om die wiel te herontwerp nie, die oplossings is reeds beskikbaar."
Laat jou stem hoor
Möller het bedryfsverteenwoordigers genooi om bydraes te maak tot Agri SA se konsepbeleid vir ramphulp in Suid-Afrika. "Ons sal met die droogte begin en dan aanbeweeg na rampe soos vloede en veldbrande," sê Möller.
'n Multidissiplinêre benadering, wat staatmaak op openbare en private vennootskappe, is nodig om die intensiteit of gevolge van rampe te beperk of verlig. Intussen neem die koste van ramphulp toe, ook in geïndustrialiseerde lande. Boere kan wêreldwyd ook nie langer net na regerings kyk vir ramphulp nie.
"Dit het gelei na 'n wegbeweeg van die tipiese subsidie-gebaseerde beleide wat ons in die verlede gebruik het," sê Möller. 'n Langtermynbenadering moet ook geformuleer word wat aandag kan skenk aan die herstel van die bedryf wanneer die krisis verby is.
Volgens Möller het die Regering se hulp met die droogte ver tekort geskiet. Hy het pres. Jacob Zuma se stelling tydens die Staatsrede dat R2,5 miljard toegeken is aan droogtehulp, sterk in twyfel getrek.
Die Regering kan egter nie pa staan vir swak risikobestuur in die landbou nie.
"Ons sal moet bewys dat ons voldoende risikobestuur in plek het as ons hulp van die Regering verwag." Die Regering het tog 'n verantwoordelikheid om boere te help met rampe wat onaanvaarbare gevolge het en buite die normale spektrum van bedryfsomstandighede val.
Voorstelle
Möller het verskeie praktiese stappe vir implementering voorgestel. Dit sluit in dat 'n ramphulpfond deur die Regering en landbougemeenskap geskep word waar op 'n 50:50-basis bygedra word.
Belastingvoordele kan ook gebruik word om die private sektor aan te moedig om 'n bydrae te maak. Individuele boere kan aangemoedig word om 'n jaarlikse eenmalige bydrae tot so 'n fonds te maak, terwyl 'n deel van die tesourie se inkomste afkomend van die landbou opsy gesit kan word as 'n staatsbydrae tot 'n nasionale fonds.
Möller stel ook voor dat staatsplase gebruik kan word om voer van 'n hoë kwaliteit te produseer, wat in voerpille omskep kan word. Boere kan ook 'n deel van hulle dieselrabat in 'n rampfonds stort terwyl verskeie versekeringsopsies ook ondersoek kan word.