
Luidens ’n verklaring sê die Wes-Kaapse departement van landbou hoenders op ’n braaikuikenplaas in die Worcestor-omgewing het positief getoets vir die hoogs aansteeklike voëlgriep.
“Die betrokke plaas is onder kwarantyn en die proses om die hoenders van kant te maak sonder dat hulle ly, is onderweg.”
Dié provinsie is swaar getref tydens die uitbrekings van HPAI in 2017, met veral eierboere wat swaar getref is.
Uitbrekings van die H5-stam, ’n stam van HPAI, is in April reeds op kommersiële braaihoenderteelplase en lêhenplase elders in die land aangemeld.
Volgens mnr. Izaak Breitenbach, hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoender-organisasie, versprei HPAI baie vinnig onder hoenders en veroorsaak dit akute vrektes.
“Ons is bekommerd oor die siekte en doen baie moeite om dit te bekamp. Tot op hede lyk dit asof alle besmettings van wilde voëls na hoenders oorgedra word. Ons het nog geen bewys gevind dat dit van een hoenderplaas na ’n ander oorgedra is nie.”
In die meeste gevalle was die plase naby water, en is die vermoede dat watervoëls die rede is vir die besmetting.
Hy bevestig weer dat die omvang van die uitbreking nie die verskaffing van eiers of hoendervleis beïnvloed het nie, en dat daar nog nie ’n tekort ontstaan het nie.
“Wanneer siek teelvoëls geslag word, veroorsaak dit wel ’n probleem in die toekoms. Ons het tans nog genoeg dagoudkuikens om normale produksievlakke te handhaaf.”
Hy gee verbruikers weer die nodige versekering dat hoenderprodukte veilig is om te gebruik en dat ’n veilige proses gevolg word om alle siek hoenders van kant te maak.
Daar is ook geen bewyse dat die siekte mense beïnvloed nie.
Boere en pluimveeprodusente word weer gemaan om alle biosekerheidsmaatreëls nougeset te volg om te voorkom dat die virus moontlik van wilde voëls of hul mis oorgedra word.
Enige siek of dooie voëls moet ook by ’n veearts aangemeld word.