Suid-Afrikaanse boere behoort nie hul produkte uit te voer as daar Suid-Afrikaners is wat honger ly nie, meen me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye.
“Hoe kan jy uitvoer as daar mense om die hoek is wat honger ly?” sê sy. Sy het gepraat op die geselligheid waarby die departement se Vroueboer van die Jaar aangewys is. Sy het ’n beroep op boere gedoen om oorskot-produkte wat hulle nie kan verkoop nie, aan sopkombuise en skole te skenk.
Voedselsekerheid
Sy het dit egter verwelkom dat Suid-Afrika voedselsekerheid geniet en steeds ’n netto uitvoerder van kos is. Dié teenstrydige uitlatings kom te midde van onder meer rekord-uitvoer van Suid-Afrikaanse wit mielies na Mexiko.
Dié land word deur ’n uitgerekte droogte geteister. Teen middel Maart is 1,6 miljoen ton van Suid-Afrika se wit mielies al uitgevoer, waarvan meer as 1 miljoen ton na Mexiko.
Joemat-Pettersson het self vroeër buitelandse reise onderneem om Suid-Afrikaanse mielies, toe nog met ’n groot oorskot, op die wêreldmark te bevorder. Die minister het ook uitgevaar oor haar departement se trae dienslewering.
Sy is die minister, en selfs sý sukkel weens dié probleem, het Joemat- Pettersson in die teenwoordigheid van mnr. Langa Zita, hoof van haar departement en ’n gas op die geselligheid, beweer. Sy het van ’n vroueboer vertel vir wie sy glo probeer help het om ’n lening van haar departement te bekom.
Volgens Joemat- Pettersson het sy haar private selfoon aan die vrou geleen om amptenare daaroor te bel. ’n Amptenaar by die provinsiale departement kon nie help nie en het haar na die nasionale departement verwys.
By die nasionale departement is die vrou meegedeel dat daar ook “geen Mafisa (met verwysing na die departement se Mafisa-leningskema vir onder meer kleinboere)” is nie. Dit het ’n hele week so aangegaan sonder dat sy enige inligting kon kry.
Finansiering
“Vroue behoort makliker finansiering te kan bekom, het Joemat- Pettersson gesê. Sy het bygevoeg vroueboere wat na volgende jaar se geselligheid kom, behoort nie deur regering- gefinansierde busse en taxi’s aangery te word nie.
“Volgende jaar moet hulle in hul eie 4x4’s daar kan opdaag. “Die Regering se ontwikkelingsprogram vir boere gaan nie meer oor armoede-verligting nie, maar oor die skepping van rykdom,” het sy gesê. “Jy kan nie 17 jaar lank ’n opkomende boer wees nie.”
29 Maart 2012