Die uitvoer van pluimvee sal waarskynlik opgeskort en alle volstruisvleis wat sedert die begin van Februarie uitgevoer is, sal herroep word, het me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê.
Meer as ’n week gelede is die voorkoms van die H5N2-stam van die avian influenza-virus, algemeen bekend as voëlgriep, op ’n plaas naby Oudtshoorn bevestig.
Die slag van meer as 5 000 volstruise het verlede week begin. Die H5N2-stam van die virus is nie gevaarlik vir mense nie. Joemat-Pettersson het gesê beheer op verskuiwings binne ’n radius van 10 km van die plaas is ingestel. Intensiewe waarneming word volgehou om die omvang van die uitbreking vas te stel.
“ ’n Jammerte is dat voorsien word dat alle uitvoer van pluimvee, insluitend volstruisvleis, opgeskort sal word, maar avian influenza-vrye afdelings sal so gou as moontlik ingestel word sodat pluimvee uitgevoer kan word.”
Nadat die voorkoms van die virus deur ’n roetine-inspeksie bevestig is, het die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) ’n selfopgelegde verbod op die uitvoer van volstruisvleis en die slag en verskuiwing van volstruise ingestel.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het verder ’n verbod op die verskuiwing van voëls in die volstruisfamilie ingestel. Dit mag slegs onder dekking van ’n Rooikruis-permit verskuif word. Die aanwesigheid van die virus is ook by die Europese Unie en die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld.
Volgens die kennisgewing op die OIE se webtuiste is altesaam 5 754 volstruise op die plaas aan die virus blootgestel. Met die aankondiging het honderd van die voëls reeds gevrek.
Mnr. Anton Kruger, hoof uitvoerende beampte van die SAVBK, het aan Landbouweekblad gesê die boer wie se volstruise van kant gemaak moes word, sal markverwant vergoed word.
Die meer as 5 000 karkasse word tot troeteldierkos of karkasmeel verwerk.
Die vel en vere gaan deur chemiese prosesse en kan dus gebruik word.
Die bedryf en die staat het hier ingegryp om te verseker dat die boer ’n uitkoms het, het Kruger aangedui.
Die opskorting van uitvoer kos die volstruisbedryf maandeliks R108 miljoen.
19 April 2011