
Uitvoerboere is raadop met swak dienslewering, nalatigheid en onbevoegdheid by Suid-Afrikaanse hawens wat lei tot miljoene rande se skade vir produsente, die erosie van Suid-Afrikaanse mededinging op internasionale markte en werkverliese op die platteland, sê dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse landbou-inisiatief (Saai).
Die regering se beheptheid met kaderontplooiing lei volgens hom tot die inploffing van staatsfunksies en die vernietiging van infrastruktuur en ekonomiese kapasiteit, en verarm Suid-Afrika op alle vlakke.
Dit is boonop die armste deel van die bevolking wat die meeste ly onder die vermindering van lewensnoodsaaklike werksgeleenthede op die platteland.
“Vrugte het ’n beperkte raklewe en moet aan superhoë standaarde voldoen om teen produkte uit Australië, Brasilië, Nieu-Seeland, Argentinië en ander lande mee te ding om ’n plek op winkelrakke in Europa, Amerika en ander lande,” sê hy.
“Inspekteurs besoek plase teen groot koste vir die boere om te sertifiseer dat die produksieproses aan daardie standaarde voldoen. Die staat se omvattende onvermoë laat die proses egter in die steek.
“Tafeldruiwe in ’n skeepshouer moet teen -0,5 °C in ’n koueketting van die pakhuis tot op die mark in Europa of Amerika vervoer word. Boere betaal daarvoor, asook vir die verpakking, versekering en hantering van daardie vrugte. Dit hou dorpe aan die gang.”
Die uiters swak hantering van dié skeepshouers in die hawens veroorsaak egter volgens hom dat duisende tonne vrugte net daar vernietig moet word nog voor dit op ’n skip gelaai word. “Temperature wat skommel of met enkele grade styg, veroorsaak onherstelbare skade aan die vrugte. Naspeuringstegnologie is al so gevorderd dat boere die temperatuurwisseling in skeepshouers intyds op hul selfone kan volg.”
GEEN BEHEER OOR SKEEPSHOUERS
Temperatuurwisseling kom telkens voor sodra die skeepshouers hawepersele binnegaan. Die hawens is nie soos boere se pakhuise op plase met kragopwekkers toegerus om hulle teen beurtkrag te beskerm nie.
Hy sê skeepshouers word ook dikwels hardhandig hanteer en nie deur hawepersoneel aan krag gekoppel nie. Hulle staan gereeld weke langer as geskeduleer in opbergingswerwe voordat hulle gelaai word.
“Die hawens word nie aan dieselfde hoë standaarde onderwerp as die produsente nie. Wanneer duisende tonne vrugte vanweë swak hantering en nalatigheid in die hawens vernietig word, verloor die boere die vrag, maar hulle moet steeds betaal vir die verpakking, administrasie en logistiek.
“Een tafeldruiweboer in Vredenburg het reeds 18 skeepshouers vol druiwe van die 2022-oes só verloor.”
Hy sê boere ook nie toegelaat om self hul houers op die hawe op te pas, te versorg of te inspekteer nie. “Hulle is absoluut uitgelewer aan die hawepersoneel se onvermoë. Niemand aanvaar verantwoordelikheid nie, en geen versekeringsmaatskappy is bereid om die vrugte op die haweperseel te verseker nie.”
BOERE DRUK VIR PRIVATISERING
Om hul waardekettings en ondernemings teen die staat se tekortkominge bestand te maak, druk boere tevergeefs vir die privatisering van die hawens. Sommige wat in buurlande belange het, voer die skeepshouers padlangs daarheen uit om toegang tot beter bestuurde hawens te kry.
Hy vertel baie hektaar vrugte is egter reeds uitgehaal en omgeskakel na bedrywe wat minder kwesbaar vir staatsmislukking is en waar die risiko’s meer bestuurbaar is. Dit is hoe duisende werksgeleenthede verlore gaan.
“Saai is uiters bekommerd oor die impak wat die ineenstorting van hawens op die toekoms van familieboere in uitvoerbedrywe kan hê. Saai is veral skepties oor die waarskynlikheid dat hawens en ander vervoerinfrastruktuur wat tydens mnr. Fikile Mbalula se termyn as minister van vervoer in duie gestort het, weer diensbaar en doeltreffend sal word.
“Daarom het Saai met uitvoerboere ooreengekom om die staat se aanspreeklikheid in hawens te toets. Ons nooi boere wat reeds skade gely het of deur die swak dienslewering in hawens bedreig word, om met ons kontak te maak.”
Volgens hom bly boere wat miljoene rande se verliese ly as gevolg van swak bestuur in hawens, en plaaswerkers wat hulle werk as gevolg daarvan verloor, skepties oor pres. Cyril Ramaphosa se beloftes van ekonomiese groei, tegnologiese ontwikkeling en werkskepping.
“Totdat kaderontplooiing met ’n strewe na doeltreffendheid vervang word, sal die verrotting in die staat en die verarming van Suid-Afrika en sy mense net verder verdiep.”