Suid-Afrikaanse landboubedrywe wat deur die Japanse aardbewing en tsoenami geraak is, wag angstig op nuus uit dié land om uit te vind hoe dit die vraag na hul uitvoerprodukte gaan beïnvloed.
Die wêreld het met skok en ongeloof gekyk na beelde van die aardbewing en die daaropvolgende verwoestende tsoenami wat Japan tot stilstand geruk het. Duisende mense is dood en soveel meer dakloos gelaat.
Volgens mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die sitruskwekersvereniging, word tot 40% van Suid-Afrikaanse pomelo’s na Japan uitgevoer. Kleiner hoeveelhede lemoene en suurlemoene is ook vir die land bestem.
Hoewel die bemarkingstyd eers middel Mei tot begin Junie afskop, het Chadwick reeds vasgestel die twee hawens wat in Tokio en Osaka gebruik word, is nie deur die natuurramp geraak nie.
“Verspreiding deur Japan sal egter beïnvloed word en dit kan ’n uitwerking op verkope hê. Mense se vermoë om geld te bestee, sal ook geraak wees en dit kan ook ’n effek hê.”
Verhoogde vraag
Chadwick sê die vernietiging van landbougrond in Japan kan egter lei na ’n verhoogde vraag na vars produkte. Mielie- en koringpryse op die toonaangewende graanbeurs in Chicago was teen middel verlede week tot 9% laer as ’n week gelede. Die sojaboonprys was 4% af. Plaaslike graanpryse op Safex het die dalende neiging gevolg.
Mnr. Wessel Lemmer, landbou-ekonoom van Graan SA, het in sy weeklikse markverslag gesê die mielieprys is teen skerper dalings gevrywaar nadat dit bekend geword het dat die hawens in die hoofstad, Tokio, en verder suid steeds oop was vir die invoer van mielies. Daarteenoor was dit egter nog onseker of die nodige binnelandse infrastruktuur daar is om mielies vanaf die hawens te vervoer.
Pryswisseling
Die onsekere toestande in Japan laat die mark dus kwesbaar vir onverwagte prysbewegings – hetsy hoër of laer, het Lemmer gewaarsku. Hy het ook daarop gewys dat beleggers op die wêreld se graanmarkte weens die onsekerheid in Japan versigtig is om posisies op die mark in te neem, wat pryse ook onder druk plaas.
Die aardbewings het opnuut die debat oor die gebruik van voedselgewasse vir etanolvervaardiging in die kollig geplaas. Sommige ontleders meen die aardbewings se blootlegging van kernkrag-gevare, kan die etanolaanlegte wat dikwels daarvan beskuldig word dat hulle graanpryse opjaag, in ’n gunstiger lig plaas.
Op sy beurt kan die verbruik van mielies vir etanol verhoog en pryse op die langer termyn steun.
18 Maart 2011