
Die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie het Maandag saam met Transnet, Untu en Satawu vergader om toesig oor die loononderhandelinge te hou. Transnet se voorstel is deur middel van die kommissie aan die vakbond voorgelê.
Transnet bied volgens Untu van 4% tot 5% aan vir sekere posvlakke. Daar word ook voorsiening gemaak vir verhogings van onder meer behuisings- en ander toelae. Transnet het ook ’n voorstel gemaak vir ’n terugwerkende betalingsooreenkoms.
Volgens Untu se skrywe aan Transnet en sy vakbondlede skuif Transnet net persentasies rond wat sy voorstel betref. “Ons sal nie ons lede met nog ’n belaglike voorstel nader nie. Dit lyk vir ons of Transnet net die aanbod aanpas, maar geen verbeteringe ten opsigte van werkers se salarisse aanbied nie.”
Die vakbond sê hy bly wel verbind tot samesprekings, bemiddeling en onderhandelings. Die skrywe sluit af deur te sê hierdie stryd sal in die geskiedenisboeke aangeteken word.
Transnet-haweterminale se bestuur in die Wes-Kaap het intussen met BerriesZA, Hortgro en die voorsitter van die nasionale landboubemarkingsraad ontmoet om gebeurlikheidsplanne vir die uitvoer van sagtevrugte vanaf Kaapstad-hawe te bespreek. Dié bedryf se uitvoerseisoen sal teen einde Oktober in volle gang wees.
“Transnet is in noue samewerking met die bedryf om te verseker dat die bederfbare produkte, asook ander vragte met ’n beperkte raklewe, by die hawens geprioritiseer word. ’n Gesamentlike, geïntegreerde beplanningspan sal op die been gebring word om die impak van verdere vertragings te versag,” lui ’n verklaring deur Transnet.