Gesprekke vind tans tussen potensiële vennote plaas vir die vestiging van ’n Leerstoel vir Gewasbeskerming, aldus die Universiteit van Pretoria (UP).
Prof. Charlie Reinhardt, ’n buitengewone professor aan die departement van plantproduksie en grondkunde aan die universiteit, sê dié leerstoel sal in dié departement gevestig wees.
Hy was ’n spreker op Monsanto se bekendstelling van die Roundup Ready Plus-program vir beter onkruidbestryding. Dié program is saamgestel ná onkruide in veral die Wes-Kaap weerstand teen onkruiddoders begin bied het en in verskeie dele probleme begin veroorsaak het. Lees meer oor die program en situasie hier.
Voedselsekerheid
Reinhardt sê met die vestiging van ’n leerstoel sal verskillende dissiplines in die bedryf in staat wees om tot volhoubare en verhoogde produksie vir toekomstige voedselsekerheid by te dra.
“Met hierdie verskerping van fokus kan die onderskeie dissiplines onderliggend tot gewasbeskerming doeltreffender benut word om die landbougemeenskap in Suid-Afrika, die res van Afrika en selfs wyer te voorsien van die kennis wat nodig gaan wees om die toekoms se uitdagings met vertroue te kan aanpak,” vertel Reinhardt.
Ekstra koste
Reinhardt sê hy besef om probleme met weerstand by onkruid aan te pak, kan ekstra koste vir boere veroorsaak. “Ek meen jy kan nie genoeg bestee om onkruid uit te wis nie. Die skade wat onkruide aan gewasse en grond veroorsaak, is veel groter as die skade wat insekte en siektes tot gevolg het.”
Volgens Reinhardt is onkruid wêreldwyd’n groot probleem, veral vergeleke met die bestryding van swamme en insekte.
“Syfers vir die wêreldmark van plaagdoders – wat onkruiddoders insluit – dui aan dat 60% van plaagdoders wat verkoop word, onkruiddoders is, terwyl insek- en swamdoders elk 20% uitmaak.”
Boere word aangeraai om seker te maak die produkte wat hulle gebruik om onkruid te bestry, is mengsels wat tot optimale ensiemopname en derhalwe die uitwissing van onkruid sal lei.
30 Augustus 2011