
Op die plaas tussen Bloemfontein en Reddersburg word opleiding in ’n reeks landbou-aspekte aangebied, insluitend diversifikasie en waardetoevoeging tot primêre plaasprodukte vir geleenthede om inkomste te verbeter.
“Ons wil studente deur die hele produksieketting neem. Die doel is om die gebruik van ’n spesifieke produk uit te brei. Byvoorbeeld, pleks daarvan om graan net aan groothandelaars te verkoop om brood te maak, kan dit gebruik word om bier te brou en die afvalproduk kan as veevoer gebruik word,” sê prof. Frikkie Neser, wat aan die hoof van UV se departement landbou staan.
Dr. Analie Hattingh bestuur die plaas se suiwelverwerkingseenheid wat in Mei 2021 gevestig is. Hier word melk tot kaas te verwerk, insluitend ’n uitsonderlike kaas wat bestanddele soos komyn, brandrissie, knoffel, peperkorrels en mango bevat. Die UV se departement volhoubare voedselstelsels en -ontwikkeling (Censard) beoog om van hierdie bestanddele in tonnels op Paradys te verbou.
Censard bied reeds ’n program op die proefplaas aan waarin lede van gemeenskappe entrepreneursvaardighede geleer word in verskillende aspekte van wolverwerking, soos brei, die maak van veltprodukte, spin en weef.
Nog ’n ontwikkeling wat vir Paradys beoog word, is die opening van 'n fermentasie-instituut. Dit sal gelei word deur bekroonde biermakers dr. Errol Cason, ’n senior lektor in die UV se departement veekunde, en dr. Christopher Rothmann, 'n nadoktorale navorsingsgenoot in dieselfde departement.
Cason en Rothmann is reeds bekend om hul LiquidCulture-handelsmerkgiste wat hoofsaaklik deur brouerye gebruik word vir die brou van bier en vir hul Kraft Brewing Co-onderneming van boetiekbier en -jenewer. Die twee gaan die fermentasie-instituut op die plaas gebruik om ander te leer om waarde toe te voeg tot grane en ander plaasprodukte.
Neser sê daar word ook beoog om die plaas opvoedkundig vir skoolgroepe op weeksdae aan te bied. Die proefplaas beoog om Saterdagmarkte aan te bied waar waardetoegevoegde plaasprodukte wat deur gemeenskapslede én op die proefplaas gemaak word, deur besoekers gekoop kan word.