
Dié besluit deur die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV) en die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF) is vrywillig geneem nadat daar reeds tien kennisgewings van EU-uitvoerbestemmings ontvang is oor vrugte wat nie aan die voorgeskrewe swartvlekvereistes voldoen nie.
“Terwyl die opskorting ’n verdere slag is vir kwekers, wat een van die moeilikste seisoene moet trotseer, moet voortgesette toegang tot die Europese markte op langer termyn voorrang geniet,” sê mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV.
Hy sê die besluit toon ook dat Suid-Afrika se fitosanitêre swartvlek-risikobeperkingstelsel doeltreffend in werking gestel word.
Valencias dra ’n groter risiko vir swartvlekbesmetting aan die einde van die uitvoerseisoen na Europa. Daarom word die laaste plaaslike inspeksies vir swartvlek op vrugte uit noordelike produksiegebiede op 16 September gedoen.
Die laaste inspeksies op vrugte uit die Gamtoosvallei (Patensie), die sentrale en westelike dele van die Oos-Kaap en die Sondagsriviervallei word op 23 September gedoen.
Mandaryne, pomelo’s, suurlemoene en nawels afkomstig van swartvlekvrye-gebiede word nie geraak nie.
Markte
Suid-Afrika het tot dusver hierdie seisoen 138 miljoen kartonhouers (15 kg elk) vrugte vir uitvoer na markte reg oor die wêreld verpak. Na verwagting sal nagenoeg 167,2 miljoen kartonhouers sitrus vanjaar uitgevoer word, wat 3,3 miljoen kartonhouers minder is as wat met die aanvang van die seisoen voorspel is.
Hoewel dit ’n toename in vergelyking met vorige jare is, was daar vanjaar talle bedryfs- en kommersiële struikelblokke wat daartoe kan lei dat kwekers groot verliese ly, waarsku Chadwick. Die vooruitsigte is dat minder as 20% van Suid-Afrikaanse sitruskwekers se inkomste vanjaar gelyk sal breek vir die 2022-seisoen.
“Dit hou ’n groot bedreiging in vir die volhoubaarheid en winsgewendheid van die bedryf en die 130 000 werkgeleenthede in die bedryf, asook die uitvoerinkomste van R30 miljard wat die bedryf jaarliks inbring.”
Volgens Chadwick is daar verskeie struikelblokke wat boere se marges vanjaar nadelig raak, soos prysstygings vir verskeie insette weens die covid-19-pandemie en die Russiese inval in Oekraïne. Kunsmispryse het van 2020 tot 2021 met 56% gestyg en brandstofpryse met 53%. Daarby moet boere opdok vir rekordhoë verskepingskoste, met pryse wat met 128% gestyg het van die eerste kwartaal in 2020 tot die eerste kwartaal in 2022.
“Dit beteken kwekers moet feitlik dubbel soveel betaal om hul vrugte te laat verskeep as die koste om vrugte oor die tydperk van ’n hele jaar te produseer.”
In teenstelling daarmee is daar ’n afname in reële uitvoerpryse reg oor alle kultivars, en na verwagting sal dieselfde neiging in komende jare voortduur.
Sitrusboere se inkomste is verder geknou deur streng en ongegronde valskodlingmot-regulasies wat met die aanvang van die seisoen deur die EU goedgekeur is, waarvolgens sitrus afkomstig van Afrika aan streng verkoelingsbehandelings moet voldoen. Boere het skade van R200 miljoen gely nadat 1 350 vragskiphouers by Europese hawens teruggehou is.
Suid-Afrikaanse kwekers word ook onder druk geplaas deur die huidige ekonomiese beperkings soos fiskale druk, voortslepende beurtkrag, hoë werkloosheidsyfers en lae vlakke van verbruikers- en sakevertroue.
Volgens Chadwick is een ligpunt dat werksaamhede by Suid-Afrikaanse hawens redelik glad verloop het. Enige agterstande is spoedig aangepak deur die betrokkenes, waaronder Transnet.