
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging (SKV), het mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, skriftelik versoek om te vra dat die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) ’n paneel stig om ’n oordeel te vel oor die EU se nuwe maatreëls vir die bestuur van valskodlingmot.
Indien dié kwessie nie voor vanjaar se uitvoerseisoen, wat in Mei begin, ontlont word nie, staar verliese van miljoene rand die sitrusbedryf volgens Chadwick in die gesig. Die volhoubaarheid van die hele bedryf kan in gedrang kom.
Nadat ’n dispuut oor die maatreëls in Julie verlede jaar by die WHO verklaar is, het konsultasie tussen die Suid-Afrikaanse regering en die EU geen vordering gemaak nie.
Chadwick sê die SKV is steeds van mening dat die nuwe verpligte kouebehandeling nie met wetenskaplike bewyse strook nie en dus ’n arbitrêre en onnodige handelsbeperking is wat indruis teen internasionale vereistes vir sulke fitosanitêre handelsregulasies.
Volgens hom het dié maatreëls se ontydige toepassing verlede jaar reeds meer as R200 miljoen in bykomende koste vir die bedryf tot gevolg gehad. Dit sal na verwagting vanjaar selfs erger finansiële gevolge vir die bedryf inhou.
’n Onlangse studie deur die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) beraam dat ’n bykomende koste en verlies van inkomste van meer as R500 miljoen vanjaar die sitrusbedryf se voorland is as die EU voortgaan met die maatreëls. Verder sal bykans R1,4 miljard in tegnologie en kapasiteit vir koue-opberging belê moet word om aan die maatreëls te voldoen.
Volgens Chadwick is bewyse ter tafel gelê dat Suid-Afrika se bestaande stelsel vir die bestuur van valskodlingmot verseker dat 99,9% van die lemoene wat Europa bereik, plaagvry is. Daar kon egter nie tot ’n vergelyk oor die nuwe maatreëls gekom word nie.
“Die kwessie is ook verlede week bespreek tydens hoëvlakgesprekke tussen senior amptenare van die EU en Suid-Afrika met geen gunstige uitkoms nie. Dit is daarom duidelik dat politieke ingryping op ministriële vlak nodig is om te verseker dat die groot bedreiging wat die maatreëls vir vanjaar se uitvoerseisoen inhou, uit die weg geruim word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.