
Die kompetisie word reeds die afgelope 38 jaar aangebied.
“Dié eerbewys is ’n huldiging aan my ma, Gay, ’n diep toegewyde boer,” het mnr. Jordi van Hasselt gesê toe die eerbewys aan hom oorhandig is. “Die welstand van élke Angorabok is haar passie, en met skeertyd hou sy deurentyd toesig. My ma is my enkele grootste inspirasie.”
Gay het die boerdery oorgeneem ná haar man, Clive, se dood in 2009. Sy het tydens die geselligheid gesê: “Ek het maar net vyf jaar lank watergetrap tot Jordi kom saamboer het. Dit is vir my ’n gróót verligting én voorreg dat hy so toegewyd is tot die boerdery.”
Vir haar dien dié eerbewys ook as bevestiging dat die regte soort Angorabok, die regte rantsoen en behandeling die beste gehalte bokhaar oplewer.
Miyuki Keori is ’n tekstielmaatskappy wat in 1905 in Japan tot stand gekom. Die groep is ’n groot aankoper van Suid-Afrikaanse sybokhaar. Hy maak die materiaal vir die vervaardiging van manspakke.
Droogtehulp
Mnr. Naoto Yoshida, voorsitter van die maatskappy, het in ’n toespraak wat namens hom deur mnr. Anthony Kirsten van Stucken & Co voorgelees is, onder meer aangekondig dat hy R15 000 vir droogtehulp aan die sybokhaarboere skenk. Kirsten het net daarna gesê dat Stucken & Co ook R15 000 skenk en hy het ander aankopers gevra om dieselfde te doen.
Ná die geselligheid het mnr. Kobus de Klerk, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Sybokhaartelersvereniging, gesê dat R90 000 vir droogtehulp tydens die toekenningsgeleentheid ingesamel is.
Die Gert Jordaan-familietrust, met sy boerdery in die distrik Aberdeen, is as naaswenner aangewys. In die kategorie vir die mees volhoubare bokhaarboerdery in Suid-Afrika is mnr. Sarel du Plessis van Vergelegen-boerdery by Oudtshoorn as die wenner aangewys, terwyl mnr. Koos le Roux van De Hooggelegen-boerdery by De Rust as die naaswenner aangewys is.