
Die Gariepdam loop al vanaf Saterdag (5 November 2022) oor. Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê boere aan die Benede-Oranjerivier moet die naweek gereed wees daarvoor dat die rivier tot 2 m hoër kan loop.
“Die Bloemhofdam se uitlaat is vandag na 200 kubieke meter per sekonde (kumek) verhoog. Die Vanderkloofdam sal na verwagting Sondag begin oorloop, wat sy uitlaat ook dan sal laat verhoog,” het Fourie vanmiddag gesê.
Hy lig boere aan die Benede-Oranjerivier op ’n Telegram-groep in oor verwagte riviervlakke op grond van die departement van water en sanitasie se syfers.
“Die eerste styging in die watervlak word vandag by Prieska ervaar, na verwagting môre by Groblershoop en Sondag by Upington. Dit sal waarskynlik nie meer as ’n meter wees nie, ’n styging van rondom 300 kumek, maar maak vir veiligheid seker dat julle speling het vir 2 m oor die naweek,” is sy raad aan boere.
Die Gariepdam was vanoggend 106,2% vol, die Vanderkloofdam 97,8%, die Bloemhofdam 95% en die Vaaldam 97,7%.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.