
Varkboerdery is ’n intensiewe en hoogs gespesialiseerde bedryf, en die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo) meen kommersiële boere moet opkomende boere bystaan. Een van die metodes om dié bystand te bevorder, is die stigting van die Baynesfield-Opleidingsakademie, wat naby Pietermaritzburg bekend gestel is.
Dié wêreldklas-opleidingsentrum sal in die toekoms die organisasie se hoofkwartier wees om opkomende boere op te lei. “Die organisasie wil verseker dat dié boere ontwikkel en ’n betekenisvolle bydrae tot die kommersiële en volhoubare varkproduksie in Suid-Afrika kan lewer,” sê mnr. Peter Mockford, voorsitter.
Opleiding
Mnr. Grant Kobus, hoofbestuurder van die sentrum, sê hulle sal opleiding van vlak twee tot ses van die Nasionale Kwalifikasie-raamwerk (NQF) aanbied. Die opleiding sal op alle aspekte van varkproduksie fokus. Dit sal nie net die verkryging van teoretiese kwalifikasies en kennis insluit nie, maar ook die bestuur van varkeenhede en sakevaardighede.
Kobus sê die geriewe kan 100 sôe hanteer, en dit sal volgens die bestaande kode van beste praktyk vir varkboerdery bestuur word. “Klasse moet nie groter as 12 studente wees nie. Dit beteken elke kursus sal nie meer as 12 studente hê nie.” Die bestuur is tans in die proses om akkreditasie van AgriSeta te bekom.
Big Dutchman en Kanhym PIC is van die maatskappye wat groot beleggings, soos die verskaffing van toerusting en diere, in die sentrum gemaak het.
Die aanleg
Die Baynesfield-varkaanleg is voorheen as ’n kommersiële eenheid gebruik, maar dit is gestaak. Savpo het die Joseph Baynes-trust genader vir dié perseël en die twee partye deel tans die eiendomsreg.
Die Baynesfield-landgoed was die eiendom van mnr. Joseph Baynes, wat sedert die laat 1800’s op dié plaas gebly het. Baynes het geen nasate gehad om die plaas aan na te laat nie, en ’n trust het dit geërf. Een van Baynes se voorwaardes vir die grond was dat ’n deel van die 10 000ha vir opleiding gebruik moet word.
Die plaas het ’n varkproduksie-eenheid, en mielies, suikerriet, avokados en sojabone word op die plaas aangeplant.
Baynes, wat in die 1920’s ’n lid van die parlement van Natal was, se huis is tot ’n museum verklaar. Hy was die eerste boer in Suid-Afrika wat sy beeste teen bosluise gedip het.