
Die kommissie sê die doel van sy ondersoek, wat binne 20 dae vanaf 14 Februarie sal begin, is om vas te stel of die waardeketting eienskappe het wat mededinging belemmer, beperk of verwring.
“Die markondersoek sal op spesifieke kwessies in elke laag van die waardeketting toegespits wees,” sê die kommmissie in ’n verklaring. Die omvang van die ondersoek sal aspekte dek vanaf die verkoop van vars produkte deur die boer aan ’n kliënt, soos ’n kleinhandelaar, verwerker of die uitvoermark.
Die kommissie het drie temas in die waardeketting van vars produkte geïdentifiseer:
- Die doeltreffendheid van die waardeketting, met die klem op die dinamika rondom varsproduktemarkte. Die kommissie sê daar is kommer dat die waardeketting, spesifiek op die vlak van varsproduktemarkte, ondoeltreffend en onmededingend is. In die ondersoek sal spesifiek gekyk word na mededingingsdinamika by varsproduktemarkte en ten opsigte van kontrakteringsmetodes, soos regstreekse kontraktering deur verwerkers, groot- en kleinhandelaars;
- Die markdinamika van sleutel-produksiemiddele en die uitwerking daarvan op produsente. Insette sluit onder meer saad, kunsmis en landbouchemikalieë in. In die ondersoek sal gekyk word na konsentrasievlakke, prysdiskriminasie, kopers se mag en eksklusiwiteit. Die tema is op die boonste punt van die produksiewaardeketting toegespits; en
- Versperrings tot toetrede, uitbreiding en deelname. Die kommissie wil veral kyk na versperrings vir klein, medium- en mikrogrootte ondernemings, asook ondernemings wat beheer of besit word deur histories benadeelde mense. Waar nodig, sal die kommissie binne die omvang van die ondersoek ook kyk na spesifieke wetgewing en die werk van ander regulatoriese of staatsliggame.
Mnr. Hardin Ratshisusu, adjunkkommissaris, sal die voorsitter van die ondersoek wees.
Die kommissie sê wanneer die ondersoek begin, sal hy meer inligting bekend maak.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.