
Vasari se oorname van die KWV-groep sal die KWV die nodige spierkrag gee om meer van sy brandewyn- en wynprodukte wêreldwyd te verkoop.
Mnr. Chris Logan, KWV-minderheidsaandeelhouer en fondsbestuurder by Opportune Investments, was “baie gelukkig” om van die transaksie te hoor.
New Rose 7 en Warshay Beleggings (wat aan Vasari behoort) het Donderdag (11 Mei) aangekondig dat hulle Niveus (wat op sy beurt aan Hosken Consolidated Investments behoort) se aandeel van 57,13% in die KWV vir R1,15 miljard wil koop. Dit sluit ál die bedryfsbates in. Die ooreenkoms is nog onderhewig aan onder meer goedkeuring van KWV se aandeelhouers en die SA Mededingingskommissie.
Regte ondervinding
“Dit is ’n uitstekende ooreenkoms. Vasari se geskiedenis wys hy kan nuwe lewe in bates blaas. Die maatskappy het al met groot sukses ’n soortgelyke transaksie met een van die wêreld se grootste whisky-produsente, Whyte & Mackay, gesluit,” sê Logan.
“Die KWV het uitstekende produksievaardighede, maar skiet te kort wat bemarking en bedryfskennis betref. Vasari bring die regte vaardighede wat die KWV sal help om wêreldwyd meer brandewyn en wyn te verkoop. Ek verwag Vasari sal volumes dryf en die maatskappy uitbou.”
Die KWV is die huis van ikoniese drankhandelsmerke, soos Roodeberg, Laborie, Golden Kaan, Cathedral Cellar en KWV 3,5,10, 15 en 20 jaaroue brandewyn.
Vasari het heelwat ondervinding in die verbruiksgoederemark – veral bier, spiritualieë en wyn – in Afrika, Asië en Europa. Die transaksie bring Vasari se Suid-Afrikaans-gebore voorsitter, mnr. Vivian Imerman, weer terug na die Suid-Afrikaanse sakewêreld. Hy het onder meer Del Monte in die 1980’s en 1990’s bestuur.
“Die oorname pas by Vasari se wyer strategie om ’n alkoholiese drankgroep oor Afrika en Asië se opkomende en nuwe markte te bou.”
Imerman sê die KWV se waarde lê “in die verhouding wat die KWV met boere, verskaffers, gemeenskappe en werknemers het wat die handelsmerk se gehalte en die uitstekende erfenis onderstreep.”
Helfte kontant betaal
Die helfte van die koopsom (R575 miljoen) sal kontant betaal word en die res sal oor drie jaar in drie paaiemente afgelos word.
Die transaksie sluit onder meer eiendomme, aanlegte, handelsmerke, aankoop- en verspreidingskontrakte en toerusting in wat gebruik word om wyn, brandewyn en ander alkoholiese drankies te maak.
“Die bates sluit sekere nie-bedryfsbates, soos die Laborie-landgoed, die KWV-kunsvesameling en La Concorde, die KWV se hoofkantoor, en ander nie-operasionale grond uit,” lui ’n verklaring op Sens (die JSE se nuusdiens).
Niveus het aan Sens gesê hulle wil verkoop omdat die transaksie ’n opbrengs op hul belegging, wat hulle in 2011 gemaak het, beteken. Volgens Niveus se finansiële resultate was die boekwaarde van die KWV se bedryfsbates sowat R1,7 milard.
Nie mnr. André van Veen, hoof uitvoerende beampte van beide die KWV en Niveus, of een van die ander bestuurslede was beskikbaar om medianavrae te hanteer nie.