Toelatingsvereistes by die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria geniet mnr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, se aandag.
In ‘n verklaring sê AfriForum Jeug die minister het in ‘n amptelike skrywe aan die organisasie erken ingryping is nodig by dié fakulteit om seker te maak dat studente wat akademies presteer, toelating tot die kursus kry.
Volgens die skrywe het Nzimande aangedui hy het ’n werkgroep saamgestel om die situasie te ondersoek. Dít volg glo ná AfriForum Jeug vroeër protes aangeteken het teen rasgebaseerde toelatingsvereistes deur met swart geverfde gesigte by die departement van hoër onderwys op te daag.
Die doel van die werkgroep sal wees om die minister te adviseer oor hoe die kapasiteit vir die fakulteit uitgebrei kan word. Nzimande gee toe dat veeartsenykunde ‘n skaars vaardigheid is, en die stelsel vir die uitbou daarvan moet verstewig word. Hy sê befondsing word ook benodig.
Dis nie genoeg nie
“Ons verwelkom Nzimande se gesindheid, maar uit ervaring weet ons dat dit nie genoeg is nie. Die huidige beleid oor toelatingsvereistes vir die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Kaapstad se fakulteit gesondheidswetenskappe is teenstrydig met internasionale konvensies wat in 2000 deur die Regering bekragtig is,” aldus AfriForum Jeug.
Die organisasie het onlangs ook met mnr. Carlton Mukwevho, die sekretaris van die Suid-Afrikaanse nasionale kommissie van die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco), vergader oor beweerde diskriminerende toelatingsvereistes by Suid-Afrika se universiteite.
‘n Versoek is aan Unesco gerig om dié bewerings te ondersoek en druk op die Regering uit te oefen om dié ‘n praktyk te staak.
15 Mei 2012