Dit lyk nie of die lank verwagte verpligte gemeenskapsdiensjaar vir veeartse eens teen volgende jaar – soos algemeen gehoop is – ingestel gaan word nie, sê dr. Rebone Moerane, voorsitter van die SA Veeartsenykundige Raad.
Dié nuus kom te midde van ’n rampspoedige uitbreking van bek-en-klouseer en ‘n chroniese tekort aan personeel by die staatsveeartsenydiens. Moerane sê aanvanklik is gehoop dat die diensjaar vanjaar ingestel sou word. Dit kom nadat die raad reeds verlede jaar sy bydraes gelewer het ten opsigte van die nodige wetswysigings daarvoor.
Dié mikpunt is nie gehaal nie en die nuwe verwagting was volgende jaar. Volgens Moerane is die gesloer nie weens ’n gebrek aan politieke wil nie, maar weens burokratiese rompslomp.
Planne om die diensjaar in te stel, is al meer as tien jaar gelede aangekondig, toe die destydse minister van landbou, mnr. Derek Hanekom, in 1999 gesê het dit kan so gou as in 2000 geskied.
Dit is as noodsaaklik beskou om ’n tekort aan veeartse, veral in afgeleë, landelike gebiede, te verlig. Dr. Pieter Prinsloo, Oos-Kaapse voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het op die kongres van die SA Veterinêre Vereniging se veegesondheid- en-produksiegroep by die Gariepdam gesê sowat 37% van alle poste vir staatsveeartse is vakant, asook sowat 15% van die administratiewe poste en 26% van die poste vir grensbeheer.
Veeartse op die kongres het besluit dat formele voorstelle aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye gedoen moet word oor hoe die private sektor bystand kan verleen deur die gekontrakteerde uitvoer van staatsdienspligte.
Dit is veral in die lig van die uitbreking van bek-en-klouseer en die omvattende opname wat nou landwyd gedoen moet word in die poging om Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer te herwin, sê dr. Danie Odendaal, ’n woordvoerder van die groep en ook lid van die raad.
Moerane meen private veeartse, hoewel gewillig, word geensins doeltreffend deur die staat benut om ’n volledige veeartsenykundige diens vir die hele land te lewer nie.
“Private veeartse in die landelike gebiede het aangedui dat hulle bereid is om daar te help. Almal van ons (vanaf staatskant en uit die private sektor) moet as ’n span saamwerk, veral ten tyde van uitbreking. Maar die private veeartse word nie nou doeltreffend benut nie.”
Moerane is ook bekommerd dat daar nie voldoende kommunikasie tussen die staatsdiens en private veeartse oor die verloop van die jongste uitbreking is nie.
8 April 2011