
Meer as 200 belanghebbendes in die rooivleisbedryf in Pretoria was dit by ’n byeenkoms in Pretoria eens dat die inwerkingstelling van LitsSA (“livestock identification and traceability system”) dringend aandag moet kry.
Die beleid vir die stelsel is opgestel deur die LitsSA-komitee, bestaande uit vyf regeringsverteenwoordigers en vyf bedryfsverteenwoordigers, goedgekeur.
Volgens dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, kan die huidige uitbreking van bek-en-klouseer die bedryf tot R10 miljard kos en kan boere na raming tot 30% van hul inkomste verloor.
Dít terwyl Suid-Afrikaanse karkaspryse, voor die uitbreking, reeds heelwat laer was as in die meeste ander lande met wie hy meeding, insluitend Australië en Amerika, en daar groot geleenthede is om deur uitvoer beter pryse te behaal.
Purchase sê daar is vir die bedryf groot potensiaal wat ontsluit moet word, maar dit is nodig om in die bedryf te belê om iets terug te kry.
10 jaar
“Ons moet die bul by die horings pak,” het dr. Michael Bradfield, een van die belanghebbendes in LitsSA, gesê, met verwysing daarna dat gesprekke oor LitsSA al tien jaar lank duur.
Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) stel volgens hom sekere vereistes vir só ’n stelsel, byvoorbeeld dat ’n bevoegde owerheid betrokke moet wees, wat die Suid-Afrikaanse veeartsenykundige diens is.
Daar moet ook ’n owerheid vir inwerkingstelling wees, wat dikwels die private sektor is, wat nou met die staat moet saamwerk.
Namibië het sy suksesvolle stelsel reeds 20 jaar gelede begin.
Mnr. Ryno van der Merwe, voormalige voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), het gesê dit was ’n inisiatief deur produsente vanuit die georganiseerde landbou wat ook opkomende en kommunale boere betrek het. “As ons hulle kon betrek, kan julle ook.”
NamLits is verpligtend vir almal en is deel van ’n groter omvattende stelsel waarin dieresorgpraktyke ook opgeteken word. Van der Merwe sê as Suid-Afrika ook só ’n stelsel in werking stel, skep dit groot geleenthede vir die Suider-Afrikaanse streek.
Prysvoordeel
Hy skryf die huidige gemiddelde beesvleisprys in Namibië van sowat R48/kg toe aan die land se toegang tot markte in die Europese Unie en Noorweë. Hy het goeie samewerking met die regering bepleit.
“Die regering is ’n belangrike betrokkene. Julle kan nie bekostig om jul regering te ignoreer nie.”
Hy het gesê hofgedinge teen die regering skep weerstand.
“Hoe kan jy ’n vennoot, volgens my jou belangrikste vennoot, hof toe neem, maar verwag dat hy die volgende dag met jou moet onderhandel? Ja, die regering is in baie gevalle ondoelftreffend, maar hy is ’n vennoot, julle behoort hom aan boord te neem.”
Van der Merwe het vertel die Namibiese grense met Angola en Botswana was in ’n beroerde toestand. “Pleks van kritiseer, het ons as boere twee jaar gelede besluit om verantwoordelikheid vir die onderhoud van ons grense op eie koste te neem, sodat ons ons gesondheidstatus in die beste belang van ons produsente kan behou,” het Van der Merwe gesê.
Data belangrik
Die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging het beraam dat die eerste jaar van ’n naspeurbaarheidstelsel by ’n mediumgrootte tot groot voerkraal met sowat 25 000 stuks vee, aanvangskoste ingesluit, sowat R4 miljoen beloop. Vir die hele land se voerkrale is die koste dan sowat R186,8 miljoen, volgens mnr. Louw van Reenen, voorsitter. Die vereniging het reeds ’n voedselveiligheidstelsel in plek.
“Dit is waarskynlik die enkele rede waarom ons steeds kan uitvoer, met ’n gesondheidsertifikaat wat Limpopo uitsluit. In die beesvleisbedryf kan jy eintlik nie meer meeding as jy nie data het nie,” het Van Reenen gesê.
Mnr. Koos van der Ryst, nasionale voorsitter van die RPO, het voorgestel ’n artikel 21-maatskappy word gestig om die owerheid vir inwerkingstelling te wees. Die RPO het beraam dat so ’n owerheid in sy eerste bestaansjaar sowat R5 miljoen sal nodig hê en daarna R8,9 miljoen per jaar.
Wat boere wil hê
Mnr. James Faber, ondervoorsitter van die RPO, het gesê sy organisasie steun die LitsSA-proses.
Boere se vereistes is dat die stelsel prakties, bekostigbaar, gebruikersvriendelik en veral vryemarkgedrewe moet wees. Almal in die waardeketting moet dit vertrou en boere moet die versekering hê dat hulle die eienaars van hul inligting sal bly.
Verskeie sprekers het benadruk dat opkomende boere ook ingesluit móét word.
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, het gesê dit kan nog vyf tot sewe jaar duur om alles vir ’n verpligte stelsel gereed te kry en het daarom voorgestel dat dit solank op ’n vrywillige grondslag begin.
Wetlike veranderinge moet dan terselfdertyd aandag kry.