In dele van KwaZulu-Natal het die geweld wat met veediefstal gepaard gaan, só erg geword dat nóg die polisie nóg private sekerheidsmaatskappye nóg vee-eienaars op soek na diere dit op daardie plekke waag, volgens mnr. Freddie van Tonder, veediefstalkonsultant vir die Rooivleisprodusente-organisasie in KwaZulu-Natal.
In die Mopani-distrik van Limpopo heers soortgelyke probleme. ’n Verteenwoordiger van die teenstropingseenheid van die K-9-sekerheidsmaatskappy het op ’n onlangse vergadering van die Limpopo-veediefstalforum gesê hulle weet van plekke waar tot 50 honde in hokke aangehou en aan stropers verhuur word.
“Ons het dit al by die polisie aangemeld, maar hulle doen niks daaraan nie. Dit is te gevaarlik vir ons as sekuriteitsmaatskappy om hierdie misdadigers op eie houtjie te konfronteer.