
Van die 847 sake van veediefstal wat van Julie tot September vanjaar in die Vrystaat aangemeld is, is 247 sake deur 13 boerderygemeenskappe langs die grens met Lesotho aangemeld, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou.
Dié bevinding word vervat in ’n verslag wat Vrystaat Landbou en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) saamgestel het.
Buys sê die aanmeldingsyfer ten opsigte van veediefstal vir die grensgebied verteenwoordig 29,16% van die Vrystaat se totale aantal veediefstalsake. Die dorpe langs die grens wat ’n toename in veediefstal aangemeld het, is Clocolan, Fouriesburg, Hobhouse, Kestell, Ladybrand, Qwaqwa, Tweespruit, Van Stadensrus en Zastron.
Me. Isabel Kruger van die veediefstalvoorkomingsforum in die Vrystaat sê by ses van dié dorpe is 20 of meer sake vanaf Julie tot September vanjaar aangemeld. “Dit dui op ’n groot toename in die aanmelding van veediefstal en ons meen dit is daarom noodsaaklik dat dié distrikte as hoëmisdaadgebiede verklaar moet word.”
Buys sê hoewel die statistieke wat mnr. Bheki Cele, minister van polisie, uitgereik het, geen getalle en geldwaarde van die verliese van boerderygemeenskappe in die Vrystaat verskaf nie, kom dit voor asof meer as 1 500 beeste en meer as 5 000 skape van Julie tot September vanjaar gesteel is. Dit lyk asof ’n derde tot ’n kwart van vee wat gesteel is, teruggevind is.
“Die minister maak egter in sy misdaadstatistieke geen melding van hoeveel misdadigers, veral veediewe, in hegtenis geneem is nie, wat baie vrae laat ontstaan.”
Luidens ’n verklaring het Vrystaat Landbou en die RPO verskeie aanbevelings met die polisie bespreek, soos dat meer klem op misdaadvoorkomingsoperasies geplaas moet word, saam met polisiepatrollies met die samewerking met boerderygemeenskappe.
Daar is ook aanbeveel dat veediefstalspeurders en polisiebeamptes verbonde aan sigbare polisiëring en misdaadintelligensie moet saamwerk sodat die afsetgebiede vir gesteelde vee bepaal kan word, asook dat begin moet word met dienste en operasies om veediewe voor te lê. Veilingskrale moet gereeld besoek word.
Vrystaat Landbou en die RPO versoek boere om hul vee te brandmerk om eienaarskap te bewys en om veediefstal by die polisie aan te meld om te verseker dat hulle aan die veediefstalwetgewing voldoen.