
Vee-eienaars reg oor Suid-Afrika behoort hul unieke, wettige brandmerke jaloers te beskerm en dit op al hul diere, en selfs op hul ander eiendom, te gebruik. Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê gesamentlike pogings om vee teen diefstal te beskerm, moet die hele jaar volgehou word en nie net gedurende die jaarlikse feestyd nie.
Landbou-organisasies het boere onlangs gewaarsku om op hul hoede te wees aangesien veediewe hulle gewoonlik nou begin voorberei om in die toenemende aanvraag te voorsien tot met Kersfees en Nuwejaar.
Luidens berigte ly die Suid-Afrikaanse landbousektor jaarliks verliese van meer as R1,4 miljard weens veediefstal.
TLU SA sê in ’n onlangse verklaring veediefstal is “reeds onaanvaarbaar” en dat die “nare werklikheid” is dat dit gaan toeneem met die feestyd om die draai.
“Boere gaan moet bereid wees om gedurende die feestyd ekstra maatreëls te tref om diefstalle te voorkom. Hulle moet – en dit is van kardinale belang – by hul plaaslike veiligheidstrukture inskakel. As hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou tot die saak deur die hof gevoer is,” sê mnr. Ronnie Schilling, TLU SA se streeksbestuurder: Oos en Natal, in die verklaring.
Dr. Florence Nherera-Chokuda, waarnemende uitvoerende hoof van die nasionale opkomende rooivleisprodusente-organisasie (Nerpo), doen ’n beroep op Suid-Afrikaanse veeboere om diere met geregistreerde brandmerke, oorplaatjies en enige ander amptelik erkende vorme van diere-identifikasie te merk, en om heinings en hekke in stand te hou om te verhinder dat diere rondloop.
“Baie hofsake word verloor aangesien eienaarskap nie bevestig kan word sonder behoorlike identifikasie van diere nie. Sekuriteitswagte is een van die doeltreffendste maatreëls om veediefstal teen te werk. Groepe diere wat deur ’n gebied gaan, sal veroorsaak dat die gemeenskap wenkbroue laat lig. Dit is uiters belangrik dat die polisie en gemeenskapsleiers in kennis gestel word,” sê Nherera-Chokuda.
Clack sê vee-eienaars moet daarvan bewus wees dat veediewe deur die jaar hul misdade pleeg om diere vir geloofseremonies en ander redes te voorsien. Die kopers van hierdie diere weet dikwels nie dat dit gesteel is nie.
“Dit is nou planttyd in talle gemengde boerderye en daarom gee hierdie boere dikwels minder aandag aan hul diere in hierdie tyd. Hulle moet nie nalaat om hul vee te beskerm nie. Dit is ook belangrik dat veeboere voortdurend hul roetines afwissel vir take soos om hul diere te tel en te inspekteer. Dit maak dit moeiliker vir veediewe om te beplan.”
Clack sê alle vee-eienaars moet trots wees daarop om geregistreerde brandmerke te kry en dit jaloers te beskerm. Dit kan gebruik word om vee en alle ander tipes plaaseiendom duidelik te merk en wettig te identifiseer.