
Benewens die feit dat KwaZulu-Natal se rooivleisprodusente nadelig geraak is deur die covid-19-pandemie, moet die provinsie se rooivleisprodusente groot struikelblokke in hierdie “nuwe normale” wêreld aanpak.
Mnr. Angus Williamson het in sy voorsittersverslag op die Rooivleisprodusente-organisasie in KwaZulu-Natal se 2022-kongres op Fordoun aan afgevaardigdes gesê dat die organisasie werk voortdurend saam met die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) om die nadelige impak van die voortslepende bek-en-klouseer-uitbreking wat die provinsie sowat 14 maande gelede getref het, te versag.
“Ons het baie geleer oor hierdie siekte en die enorme bedreiging wat dit vir ons bedryf inhou. Daar moet ook voortdurend teen besmetlike misgeboorte, tuberkulose en ander siektes gewaak word. Ek versoek ook rooivleisprodusente om baie versigtig te wees vir WhatsApp-boodskappe en ander bronne van gerugte. Maak seker dat die inligting daarin akkuraat is voordat sulke boodskappe aangestuur word.”
Hy het gesê hoewel die biosekerheidsreëls vir lewendehawe-agente, wat deur die landbouprodukte-agenteraad (Apac) ingestel is, aanvanklik met weerstand van baie belanghebbendes in die primêre rooivleiswaardeketting begroet is, het die toepassing daarvan gunstige uitkomste gehad. Die toepassing van hierdie reëls het byvoorbeeld die vroeë identifikasie van siek diere verbeter wat die siekte kon versprei. Hierdie reëls het dit ook moontlik gemaak om veeskoue en -kompetisies, soos dié van die onlangse 2022 Royal-skou, te hervat.
“Veediefstal bly hoog op ons ordelys. Dit is van groot belang dat alle gevalle by die polisie en by plaaslike boereverenigings aangemeld word sodat dit opgevolg kan word. So frustrerend soos dit soms is, het ons saaknommers en statistieke nodig wanneer ons met die polisie en met sy veediefstaleenhede te doen het,” het Williams gesê.
Hy het al KZN se rooivleisprodusente bedank wat vrywillige heffings betaal. Die inkomste uit hierdie heffings stel die RPO in staat om onder meer bewusmakingsveldtogte te onderneem en om met die regering en ander entiteite in gesprek te tree tot voordeel van die provinsie se rooivleisprodusente. Opleidings- en ontwikkelingskursusse vir bestaande en potensiële rooivleisprodusente en hul werknemers word ook gefinansier.