
Volgens Netwerk24 het mnr. Manni Oelrich (52), seun van mnr. Mann Oelrich, vandeesweek in die Bloemfonteinse streekhof verskyn op 136 aanklagte, waaronder bedrog en geldwassery.
Volgens ’n berig op Netwerk24 het Oelrich na bewering beeste wat reeds aan Chalmar Beef behoort het, aan dieselfde maatskappy terugverkoop. Hy het na bewering ook ander beeste wat na bewering aan Chalmar Beef behoort het, aan ander entiteite verkoop.
Netwerk24 berig dat Chalmar Beef van die begin van 2016 tot Januarie 2017 vir Oerlich gekontrakteer het om van die maatskappy se beeste op sy pa se Oelrietta-boerdery in die Vrystaatse distrik Tweespruit vet te maak. Sodra hulle gereed was, sou die beeste na Chalmar Beef se voerkraal en abattoir by Bapsfontein in Gauteng vervoer word.
Chalmar Beef se bestuur het in Januarie 2017 agterdogtig geraak oor Oelrich se transaksies met hul maatskappy. Ondersoeke het na bewering bedrieglike tarnsaksies met ongeveer 2 400 beeste ter waarde van meer as R12 miljoen aan die lig gebring.
Mnr. Willem Wethmar, uitvoerende hoof van Chalmar Beef, het aan Landbou.com bevestig dat Oerlich strafregtelik en siviel vervolg word.
“Dié sake is tans in die hof en ek kan nie nou verder kommentaar lewer nie. Ek wil net die owerhede bedank dat hulle hierdie saak opgevolg het.”
Vrystaat Landbou en die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie wou nie kommentaar oor dié saak lewer nie.
Netwerk24 het berig borgtog van R20 000 is aan Oelrich toegestaan en die saak is tot November uitgestel.