
Mnr. Jaco Maré, ondervoorsitter van die Rooivleis-Produsente-organisasie (RPO), het op die nasionale kongres vertel hy spuit die haarsproei op diewe se spore as hy by 'n veediefstaltoneel kom en bewaar só die spoor vir die polisie, berig Volksblad.
Facebook het vir hom en sy vriende ook al gehelp om diewe vas te trek en voorvalle te voorkom, het Maré gesê. “As iemand ’n foto op ’n veiling neem en dit op Facebook plaas, kan jy jou diere uitken, mits hulle goed gemerk is.”
In die Hartbeesfontein-distrik waar hy boer, het hulle ook ’n ooreenkoms met die plaaslike verhuurder van sleepwaens gesluit. Hulle word dadelik in kennis gestel as 'n verdagte persoon 'n sleepwa huur. Boere moenie net op die polisie staatmaak nie, maar self ook moeite doen, het Maré gesê.
Hy het ook die behoorlike merk van diere – ’n brandyster of ’n tatoeëermerk vir kleiner diere, benadruk. Boere moet ook volledige verklarings aflê, want die meeste sake word uitgegooi weens gebrekkige identifikasie en onvolledige verklarings, het hy herinner.
Bron: Volksblad.