
Met sy heengaan was hy die kanselier van die Peritum Agri-instituut in Bloemfontein.
Groenewald het in 1972 sy loopbaan as ’n navorsingsbeampte aan die Henderson-sentrum in Zimbabwe begin. Van 1975 het hy twee dekades by Rumevite-dierevoeding gewerk, onder meer as hoof van die navorsingsplaas in KwaZulu-Natal.
In 1996 is hy aangestel as direkteur van die sentrum vir volhoubare landbou, landelike ontwikkeling en voorligting aan die Vrystaatse Universiteit. In sy 20 jaar in dié pos het hy die sentrum as ’n vooraanstaande opleidingseenheid vir volhoubare landboupraktyke in Afrika suid van die Sahara gevestig.
Sy kollegas het hom geloof vir sy rol as die studieleier van ’n groot aantal doktorsgraad-kandidate. Groenewald het dikwels kandidate oor die wêreld heen besoek waar hulle met hul navorsing besig was.
Hy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Professionele Veekundiges en was ook lid van verskeie soortgelyke organisasies en advieskomitees. Hy was ook onder meer die skrywer en medeskrywer van 85 wetenskaplike artikels in vaktydskrifte en ander publikasies.
Prof. H.O. de Waal beskryf Groenewald se heengaan as dié van nog ’n groot gees wat deur Covid-19 oorval is. “Ons verbintenis as veekundiges strek oor baie jare. ’n Gemeenskaplike belangstelling in die voeding van beeste, veral fosfaatvoeding op veld, het ons paaie laat kruis.”
In die 1980’s het die laboratorium op Glen gehelp om ribbebeenmonsters van beeste in sy proewe te ontleed. Volgens De Waal het die resultate kennis van die vakgebied verbeter en ’n groot bydrae gelewer om die voeding van veldbeeste beter te bestuur. “As praktiese veekundige en as akademikus het prof. Izak Groenewald ’n groot bydrae gelewer tot die praktiese en wetenskaplike beesboerdery in Suid-Afrika.”
Hy word deur sy vrou, Gertraude, hul twee dogters en hul gesinne oorleef.