
Dié prestasie is op ses jaar se stabiliteit en veerkragtigheid gegrond, sê mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van die landbougroep.
Senwes, wat op die ZAR X-sekuriteitebeurs genoteer is, het sy omset met 57,7% tot R7,6 miljard (2020: R4,8 miljard) verhoog. Sy verdienste het in die boekjaar tot einde April 2021 met 61,1% gestyg tot R1 miljard, voor rente, depresiasie en amortisasie. ’n Wins van R526 miljoen is aangeteken. Dit is ’n verhoging van 73,6% teenoor R303 miljoen vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
Senwes, wat in die hartjie van die somergraanproduksiegebied sake doen, kon vanjaar saam met sy produsente die voordele van ’n goeie oes benut. Tog was die jaar nie sonder probleme nie, sê Strydom.
“Wêreldwyd sal 2020-’21 nie net onthou word vir die verwoestende gevolge van die covid-19-pandemie nie, maar ook as ’n tyd van groot onstabiliteit, digitale transformasie en ’n vinnige oorgang na ’n nuwe normaal. Op eie bodem moes die landbousektor ’n seisoen van uiterstes trotseer, wat gewissel het van verwoestende veldbrande, oorstromings, gewas- en veesiektes tot ’n rekordmielieoes en gunstige markvooruitsigte.”
Senwes maak sy geld eerder uit die tonnemaat as die onderliggende pryse vir die graan wat hy opberg, sê die ontleder mnr. Anthony Clark, wat Senwes se resultate as “verstommend goed” beskryf het. “Die groter mielie-oes en ’n rekordsoja-oes wat vanjaar verwag word, het die groep tot ’n buitengewone stel resultate aangevuur.” Hy glo die verkrygings wat Senwes in die jongste boekjaar gedoen het, soos Suidwes Landbou, het ook momentum vir die goeie finansiële prestasie gelewer.
’n Finale dividend van 32 sent per aandeel (2020: 30 sent), asook ’n spesiale dividend van 26 sent per aandeel (2020: 0 sent) is verklaar. ’n Verdienste per aandeel van 307,2 sent is gelewer, wat 72,3% hoër is as die 178,3 sent per aandeel vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
Kontant uit bedrywighede het met 67% vanaf R545 miljoen in 2020 tot die huidige boekjaar se R910 miljoen gestyg. Die groep se insetverskaffingsdienste het ’n wins van R584 miljoen getoon. Dis ’n verbetering van 294,6% op die vorige jaar se prestasie. Die marktoegangsdienste het met 12,9% gegroei en ’n wins van R210 miljoen is aangeteken.
Vooruitsigte
“Die verwagtinge vir die 2021-oes is baie belowend en die Nasionale Oesskattingskomitee voorspel ’n nasionale mielie-oes van meer as 16 miljoen ton, terwyl internasionale kommoditeitspryse die afgelope jaar op goeie vlakke was. Die laer rentekoerse het groot besparings teweeggebring vir alle ondernemings en die vooruitsig is daarom gunstig vanuit ’n kontantvloei- en ’n winsgewendheidsoogpunt. Hierdie faktore sal beslis bydra tot groter plantvoornemens vir die volgende seisoen,” sê Strydom.
“Voeg hierby die hoër vlakke van besigheidsvertroue en alles dui daarop dat produsente meer gaan bestee op insette en kapitaalgoedere vir die volgende seisoen. Die opname van krediet behoort te verlangsaam weens die surplus kontant in die mark,” sê mnr. Corné Kruger, hoof- finansiële beampte van die groep.