Veeverliese weens skadeveroorsakende diere in die Sentraal -Karoo en Suid-Kaap begin rampafmetings aanneem, aldus Agri Wes-Kaap. Luidens ’n verklaring was die ontsaglike verliese wat boere in dié dele ly van die ernstige besprekingspunte wat die afgelope weke tydens streekskongresse op Nelspoort, Prins Albert, Oudtshoorn en Herbertsdale bespreek is.
Na gelang van die grootte van die kudde, bereken boere hul kosteverliese op lammers op van 70% tot 100%. In sommige gevalle word die kuddes van opkomende en bestaansboere heeltemal deur dié diere uitgewis.
Verklaar as ’n ramp
Agri Wes-Kaap, met die samewerking van die Rooivleisprodusente-vereniging (RPO) en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het intussen die Regering gevra om die situasie as ’n ramp te verklaar.
Die drie organisasies het in 2008 die Roofdierwerkgroep gestig wat met die samewerking van CapeNature die omvang van die skade en moontlike oplossings bespreek. Dringende gesprekke is in dié verband met mnr. Anton Bredell, die Wes-Kaap se Minister van Omgewingsake , aangevra. Groot kommer bestaan ook oor die swak samewerking wat die georganiseerde landbou tot dusver van die provinsiale regering gekry.
“Onvoeldoende bestrydingsmaatrëels, die provinsiale regering (Departement van Omgewingsake) se onvermoë om die bestaande permitstelsel doeltreffend te bestuur en politieke leiers wat ontken dat ons hier met ’n krisis te doen het, veroorsaak dat boere in die Karoo ten gronde gaan,” sê Kosie Loubser, voorsitter van Agri Wes-Kaap.
“Voedselsekerheid, werkgeleenthede en ekonomiese groei in die landelike gebiede word ernstig bedreig, maar dit wil voorkom asof hierdie aspekte nie vir die Regering belangrik is nie.”
Die skade
’n Sensus van landboustatistiek van 2007 dui aan dat die Wes-Kaap se skadeverliese 48% (R103 987 miljoen) van die nasionale syfer beloop. ’n Studie wat sedert 2005 onder 17 boere met sowat 400 ooie elk gedoen word, het in 2010 aangedui dat dié boere in 2010 146 diere verloor het. Dit kom neer op R102 690 per boer, waar die boer ’n potensiële omset van R280 000 het.
“Dis duidelik uit hierdie syfers dat die boere glad nie meer ’n bestaan kan maak nie en dat ons dringend oplossings vir hierdie krisis moet kry,” sê Loubser.
Bosvarke en bobbejane
Die organisasie sê hoewel jakkalse en rooikatte tans die grootste probleme veroorsaak, word bobbejane en bosvarke vinnig ’n bedreiging teen die tempo wat hulle landerye, boorde en wingerde in die bogenoemde distrikte vernietig.
Die probleme word grootliks aan swak grensdrade, veral langs nasionale parke of natuurbewaringsgebiede, en gebrekkige regulasies vir die bekamping van dié diere toegeskryf.
30 Maart 2011