
Dit is omdat die mielie- en sojamarkte ’n laer prys en groter oes verwag, sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom.
“As ons kyk na pryse in Maart en Junie volgende jaar, is dit laer. Die mark verdiskonteer dus ’n groot oes,” het Willemse op ’n aanbieding oor markvooruitsigte gesê. “Van die veeboere het my al gevra of dit ’n goeie tyd is om nou die prys vas te maak, maar Rabobank reken die prys kan nog daal. Die gedagte is om ’n bietjie te wag, hoewel hier nou ’n geleentheid kom om vas te maak.”
Saaiboere se produksiekoste gaan styg met mielieproduksiekoste wat van 45% tot 50% hoër is as laasjaar. “Jou risiko het dus baie verhoog, want jou finansieringskoste het toegeneem.”
Daarteenoor het sojabone se produksiekoste met net 30% gestyg en dit verklaar deels die groot swaai na sojaboon-aanplantings, sê Willemse.
Hy beklemtoon dat ’n goeie opbrengs deurslaggewend gaan wees. “Wat witmielies betref, is die produksiekoste plus vaste koste in die Noordwes-Vrystaat hier by die R20 000/ha. As jy 6,5 t/ha stroop, teen volgende jaar se pryse, is jy darem nog redelik in die groen, maar as jou opbrengs begin daal of die prys begn afkom, dan neem jou risiko toe.”
Swaai na sojabone
Sojabone se insetkoste is heelwat goedkoper teen R13 000/t of direkte koste van R10 500/t, wat verklaar waarom die boere op byvoorbeeld Schweizer-Reneke beoog om tot 50% van hul witmielielande om te swaai na sojabone, sê Willemse. “Hier is ’n geldjie te maak as jou opbrengs rondom 1,8 t/ha is, maar as jou opbrengs daal, gaan jy sukkel om wins te maak. Opbrengs is baie belangrik vanjaar.”
Ondanks die huidige nat planttyd is daar nog nie rede om bekommerd te wees oor die grootte van die mielie-oes nie. “Hoewel eindvoorraad volgende jaar knapper kan raak, sê die mark op die oomblik vir ons dat daar genoeg mielies is en as dit knapper raak, sal ons minder uitvoer.”
Willemse sê daar is wel debat oor hoeveel van die oordragvoorraad laergraadse mielies sal bevat.
Op die internasionale mark is die verwagting dat die Chicago-prys ’n hoogtepunt gaan bereid en vorentoe laer kan beweeg. “Die Amerikaners het omtrent klaar geoes en die oes is verdiskonteer. Ons verwag dat pryse in September 2023 met die nuwe oes heelwat laer gaan wees.”
Wat die wisselkoers betref, het Willemse daarop gewys dat die sterkte van die Amerikaanse dollar ’n veel groter invloed op die beweging van die rand het as wat binnelandse politieke faktore dit laat versterk of verswak. Internasionale ontleders verwag dat die rand volgende jaar in ’n band van R17/$ tot R17,50/$ sal beweeg. “Daar is dus laer dollarpryse en ’n rand wat volgende jaar relatief stabiel gaan bly. Dit lyk asof in- en uitvoerpariteit nie vreeslik gaan skuif in die volgende jaar nie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.