
Volgens die organiseerder, mnr. Hein Markram, sakeman van Vryburg, het weldoeners van so ver as Sannieshof, Delareyville, Biesiesvlei en Mahikeng in Mei en Junie sowat 120 ton veevoer vir boere in die Boesmanland geskenk. Dit sluit mielies, aartappels, sojaboonreste, grondboontjiehooi en bloubuffelgrasbale, asook brandstof vir vragmotors in. Dit was belangrik om hoëwaardevoer te skenk.
Ander mense het kos, klere, skoene, water, geskenkpakkies en winkelkoepons gegee, terwyl die NG kerk Vryburg-Noord die administrasie van die geldskenkings hanteer het.
Markram sê hulle het op 9 Augustus nog ’n skenking van 12 ton grondboontjiehooi en 25 ton mielies en brandstof ontvang wat na Pofadder moet gaan. Hy bewonder die Boesmanlandse boere wat te midde van ’n jare lange droogte met deursettingsvermoë volhou. “Die tonele van die veld wat van Kakamas al hoe droër word, was skrikwekkend. Ons is net die instrumente van die Hoër Hand. Uit dankbaarheid dat dit met ons goed gaan, moet ons aan ander gee. Dit is wonderlik dat mense uit alle oorde steeds skenkings aanbied.
“Die boere in die Boesmanland is ongelooflik sterk en het baie deursettingsvermoë. Met ons besoek moes ons keer dat hulle te veel vir ons teruggee.”
Mnr. Andries Coomans, wat met sy vragmotor gery het om skenkings af te laai, sê die droë tonele van net klip, bossies en sand het hom geskok. “Daar was sommer ’n stilte in my voertuig, want daar is niks in die veld nie. Ek kry die boere bitter jammer. Ons boere van Vryburg het vroeër vanjaar gekla toe dit by ons so baie gereën het dat die lande te nat was en die vee vrotpootjie gekry het. Ons kon nie aartappels uithaal nie. Die kunsmis het in die grond geloog weens te veel reën. Ons moet twee keer dink voor ons weer oor te veel reën kla. Die boere in die Boesmanland het werklik rede om te kla. Ek haal my hoed vir hulle af. Ons moet ’n biddag hou dat die Here hulle met reën sal seën.”
Mnr. Jannie Kruger, van die plaas Grappies 80 km suidoos van Pofadder, sê die skenkings vir sowat 60 boere is goud werd. “Dit het waarskynlik meer as een Boesmanlandse boer deur die winter tot nou gesien.”
Kruger sê sy pa het altyd gesê dit is allesbehalwe grappies wanneer droogte heers. “Hein-hulle besef nie werklik wat die skenking vir ons beteken nie. ’n Boer wat nie geld oor het nie, kry nou die voer verniet, of die mielies teen ’n fantastiese afslagprys. Jy hoef jou nie te bekommer waar die geld vir voer vandaan kom nie.”
Op sy plase het dit in strepe gereën en “tussenin is alles pikswart en dood. Aan die oostekant van Pofadder het die veld meer gereën gehad as in die ander windrigtings. Ons moet maar net deurdruk, want ons het tot hier gekom.”