Boere se deelname aan en die bestuur van landelike beveiligingsinisiatiewe is uiters belangrik vir groter veiligheid. Genl.maj. Jan Scheepers, hoof van sigbare polisiëring in Limpopo, sê die vertrekpunt vir elke boer moet wees om deel te raak van landelike beveiligingsinisiatiewe by sy plaaslike polisiekantoor.
“Dit is belangrik dat die polisie dit nie moet bestuur nie, maar die boerderygemeenskap self. Die boerderygemeenskap moet verseker dat daar vergaderings is en behoorlike beplanning gedoen word.”
Scheepers het die landbougemeenskap op Agri Limpopo se onlangse kongres toegespreek en gesê: “As ’n mens kyk na wat tans in Suid-Afrika gebeur, moet ons onsself voorberei op die moontlikheid van meer geweld op plase, asook dorpe.”