
Beleggers uit 15 lande sal Woensdag meeding wanneer die 329 jaar oue Stellenbosse wynlandgoed Morgenhof tydens ’n virtuele veiling onder die hamer kom.
Morgenhof word tans besit deur me. Anne Cointreau, wie se familie sedert 1272 wyn, sjampanje en spiritus in Frankryk produseer. Haar grootoupa Adolphe het die bekende lemoenlikeur wat die familie se naam dra, ontwikkel.
Morgenhof het ’n lang verbintenis met die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die plaas se wynmaakgeskiedenis wat in 1692 begin het, kan teruggespeur word tot by die Franse Hugenote.
Mnr. Joff van Reenen, direkteur en hoofafslaer by High Street Auctions, wat die veiling met die samewerking van die Amerikaanse veilingmaatskappy Tranzon behartig, sê verskeie potensiële plaaslike en internasionale kopers vanuit onder meer Engeland, Australië en China het die afgelope twee naweke besigtigings van die landgoed van 210 ha bygewoon.
Volgens Van Reenen stel verskeie Amerikaanse beleggers daarin belang om die wynlandgoed te koop, onder meer beleggers uit die Napa-vallei in Kalifornië.
Die suksesvolle koper sal nie net die landgoed, met sy twee herehuise, ’n proelokaal, troukapel, gastehuisies, onthaallokale, gesonke wynkelder en wynmakery koop nie, maar ook al die meubels op die landgoed, asook die inhoud van die wynkelder.
Van Reenen sê Anne sal terugkeer na Frankryk om af te tree. Volgens hom hoop sy dat die volgende eienaar op die landgoed se erfenis vir nog 300 jaar sal voortbou en sodoende ’n nalatenskap van 750 jaar se wynmaak by Morgenhof skep.
Besoek www.highstreetauctions.com vir nog inligting.