
Sowat 1 000 ha grasveld het die afgelope twee weke naby Potchefstroom en Carletonville weens veldbrande in die slag gebly.
Dr. Kobus Roux, voorsitter van die Brandbeskermingsvereniging van Potchefstroom, sê: “Ons is op ’n baie hoë gereedheidsgrondslag vir enige brande wat die naweek in die omgewing kan voorkom, veral weens die winderige toestande wat voorkom.”
Hy sê sowat 400 ha grasveld het Donderdag (12 Julie 2012) afgebrand ná ’n voorbrand buite beheer geraak het. Working on Fire se helikopter wat op Potchefstroom staan, is uiteindelik gebruik om die brand onder beheer te bring.
“Andersins is dit maar dieselfde ou storie met brande wat langs hoofweë begin word deur mense wat hulself wil warm hou of wat sigaretstompies by motorventers uitgooi,” vertel Roux. Hy sê tot dusver is nog geen menselewens of diere in brande verloor nie. Die distrik het vroeër reuse-verliese aangeteken ná honderde duisende hektare in brande vernietig is.
Baie bekommerd
Intussen sê mnr. Jaco Maré, tweede ondervoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie: “Ons is baie bekommerd oor die hele weidingsituasie in die land.” Groot dele in sentrale Suid-Afrika het weens ’n droë somer die winter met min weiding binnegegaan.
“Baie ouens het hul kuddes al heelwat kleiner gemaak en Oktober lê nog ver,” vertel Maré. “En as die ouens nou nog weiding en grasveld in veldbrande verloor, gaan dinge baie rof begin gaan.”
Enige reën sal tans verwelkom word, sê Maré. “Ons hou duim vas vir en verwelkom enige reën, want hoewel dit nie ’n oplossing op kort termyn sal bied nie, sal dit wel daartoe lei dat die gras vroeër begin bot wanneer temperature weer warmer raak.”