
Veldbrande in veral Julie, Augustus en September het grootskaalse verwoesting in die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes gesaai en is ’n groot bron van kommer vir die landbousektor, sê me. Andrea Campher, risiko-en-rampbestuurder by Agri SA.
Na raming het meer as 270 000 ha die naweek in die Noord-Kaap afgebrand en in die Vrystaat is meer as 52 plase verwoes. ’n Boer van Dewetsdorp het 400 dragtige ooie en 90% van die weiding op sy plaas van 1 000 ha verloor.
Volgens Campher het na raming meer as 500 000 ha in vier maande in Noordwes afgebrand. “Dit beslaan bykans 5% van die provinsie se oppervlakte. Agri SA is besig om die omvang van die skade te bepaal, maar is bekommerd dat die probleme op grondvlak baie groter is as die inligting wat ons tot ons beskikking het.”
Sy sê droë, sterk winde het die afgelope paar weke die ideale toestande vir wegholbrande geskep. “Die omvang van die skade is so groot dat as die afgebrande dele tot rampgebiede verklaar word, sal die staat nie oor die vermoë beskik om boere by te staan nie.
“Weens burokratiese rompslomp sal ramphulp nie betyds gelewer word nie, omdat staatshulpbronne onder druk geplaas is weens die covid-19-pandemie. Die droogtehulp wat tans verskaf word, is onder die vaandel van die heersende droogterampverklaring wat deur die regering gemaak is.”
Mnr. Willem Symington, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die vraag na ruvoer is reeds onder druk weens voerhulp wat aan droogtegeteisterde gebiede voorsien word. Die beskikbaarheid van ruvoer is ook onder druk aan die einde van die winter aangesien die lentegroeiseisoen nog nie begin het nie.
Campher sê Agri SA moedig die publiek aan om by te dra tot die organisasie se ramphulpfonds, wat deur Agri SA Disaster Relief Foundation bestuur word. “Donateurs kom in aanmerking vir ’n artikel 18A-sertifikaat. Geld sal spesifiek aangewend word vir die aankoop van veevoer, vervoerkoste en infrastruktuur, soos omheining om lewende hawe te beveilig.”
Intussen sê die Vrystaatse sambreelbrandvereniging in sy jongste verklaring die brande wat sedert die naweek in die Noord-Kaap by Daniëlskuil gewoed het, is gister onder beheer gebring. Die koeler weer en reën wat tot vandag voorspel word, sal help om die brande te blus. Vanaf Donderdag is toestande egter weer gunstig vir die ontstaan van wegholveldbrande.