
Twee veldbrande in die Griekwaland-Oos het die naweek bykans 200 000 ha weiding, derduisende stuks vee, voerbale en selfs mense se lewens geëis. Die boereverenigings van Cedarville, Kokstad en Mount Curry is besig om tussen die chaos van die traumatiese gebeure, boere by te staan en skade te bepaal.
Me. Margi Fleming, sakebestuurder van die Mount Curry Boerevereniging, het aan Landbouweekblad bevestig dat nét in daardie omgewing sowat 175 000 ha weiding afgebrand het. “Die brand het Sondag wes van Kokstad, net buite Cederville, ontstaan. Aangesien dit nog baie vroeg in die seisoen is, is brandpaaie nog nie gereed gewees nie, want ons het nog nie voldoende ryp gehad nie,” verduidelik sy.
Volgens Fleming is dit die ergste brand in die omgewing in meer as 70 jaar. “Daar is onbevestigde gerugte dat minstens vyf mense hul lewens verloor het, maar niemand is nog seker nie. Die finale skade op plase sal ook eers oor ’n week of wat bepaal kan word, aangesien daar vele diere is wat nie onmiddellik weens die brand omgekom het nie, maar wat erg beseer is. Daar is ook ’n onbekende hoeveelheid huise op plase vernietig,” verduidelik Flemming.
Volgens me. Meg Rorich, die sakebestuurder van die Zwartberg Landbouvereniging, is daar ook in die Zwartberg omgewing weiding op bykans 15 000 ha in puin gelê. “Dit is regtig tragies. Dit is nog te vroeg om al die skade te bepaal en tans is ons net gemoeid om alle werkers en boere wat skade gely het, te help om ten minste slaapplek, kos en warm klere te kry.” Die Griekwaland-Oos strek oor die suidwestelike deel van KwaZulu-Natal en die noordoostelike deel van die Oos-Kaap. Volgens Rorich hoop hulle dat hierdie ramp dus spoedig by die nasionale Regering aandag sal geniet om sodoende hulp aan die boere te verleen wat erge verliese gelei het. “Vele boere het hul ganse weidings verloor en baie ook hul totale skaap- en beeskuddes. Hierdie ramp het groot en kleinboere getref. Ons hoop die Regering kan spoedig help om hierdie boere weer op die been te kry,” aldus Rorich. Hulp het reeds van buurstreke begin instroom, vertel Fleming. “Boere van die Underberg het reeds voer begin aanry en boere van Harding het suikerreste aan die boere hier geskenk. In die dorpe is die barmhartigheid ook tot oorlopens sigbaar waar mense kos, klere en komberse geskenk het.” Indien jy ook ’n bydrae wil maak, kontak Margi Fleming by sel: 084 6699 609084 6699 609, epos: mcfa@live.co.za.