’n Klag is by die Advertensiestandaarde-owerheid van Suid-Afrika en die Verbruikersraad ingedien oor die veldtog vir Vleislose Maandae. Dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaapse Rooivleisprodusenteorganisasie, het die klag in sy persoonlike hoedanigheid ingedien nadat talle versoeke in die verband van rooivleisprodusente ontvang is.
Prinsloo sê die publiek word onder meer in televisieprogramme, oor die radio en deur middel van pamflette aangemoedig om op Maandae nie rooivleis te gebruik nie. Prinsloo sê bees- en skaapvleisboere is reeds weens biosekuriteitsmaatreëls onder groot druk.
Só ’n veldtog ontneem hulle van hul grondwetlike reg om ’n lewensvatbare bestaan te voer. Die bedryf verskaf aan duisende behoeftige landsburgers werk en daar is geen sprake van die vernietiging van reënwoude om rooivleis te produseer nie.
Prinsloo het ’n beroep op rooivleisprodusente gedoen om saam te staan om hul bedryf te beskerm.
“Die vraag is of diegene wat die Vleislose Maandae-veldtog steun, onvoorwaardelik ’n sewende van hul weeklikse inkoms te aan die bevordering van hul saak sal afstaan,” het hy gesê.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 29 Oktober 2010.
22 Oktober 2010