
Agriqua Holdings is ’n program wat deur GWK in vennootskap met die Nedbank- en Old Mutual-swartsakevennote-nalatenskapprogram op die been gebring is.
Altesaam 88 kleinskaalse boere verbou op meer as 900 ha by Taung mielies, katoen, koring en gars. Die grond is deel van die Vaalharts-besproeiingsgebied.
Mnr. Thuso Mokwa, landboustreekbestuurder van Nedbank, sê van die eienskappe van Agriqua wat tot die sukses bydra, is dat ’n vennoot soos GWK betrokke is wat ’n wye netwerk danksy sy 4 000 lede het.
GWK bring ook die nodige markkennis, mentorskap en entrepreneurskap- en vaardigheidsontwikkeling en het ’n afset-ooreenkoms met die boere gesluit.
Mnr. Jacques Hugo, hoof van Agriqua, sê danksy verbeterde toegang tot tegnologie, kapasiteitsbou, volhoubare energie, doeltreffende besproeiingstoerusting en die bevordering van veerkragtigheid en risikoversagting het die program oor ’n driejaarsiklus die hoogste opbrengste gelewer wat ooit in Taung opgeteken is.
In die program word veral aandag gegee aan presisieboerdery, deur die gebruik van tegnologieë en metodes om oesprestasie te bestuur en verbeter.
Agriqua het in 2019 begin, met 21 boere op 210 ha. Daar word aan elke boer minstens 10 ha toegeken. Die doel was om opkomende swart boere te ontwikkel sodat hulle kommersieel kan word en uiteindelik deel kan word van die landbouwaardeketting.
Die nalatenskapprogram het van 2019 tot 2022 R6 miljoen in die program belê, spesifiek om deelnemende boere se insetkoste te dek.
Tot nou het Agriqua 298 seisoenale werkgeleenthede geskep en 12 kontrak- en plaasondersteunende poste. Dit terwyl die werkloosheidkoers in Taung 49,8% is, en 61,7% spesifiek onder die jeug.
Die plan is om Agriqua uit te brei na 120 boere en veral aandag te gee aan vaardigheidsontwikkeling by vroue en die jeug in die landbou.
Die nalatenskapprogram is in 2016 begin, met Nedbank, Old Mutual en die swart beleggingsmaatskappye Brimstone en Wiphold wat R300 miljoen bygedra het en waarvan R180 miljoen bestee is. Die program bied finansiering met “geduldige kapitaal” oor gunstige tydperke en teen minimale of geen rente.
Die ontwikkeling van kleinskaalse boere tot kommersiële boere is een van die doelwitte van die erfenisprogram, tesame met onder meer werkskepping en steun aan klein sake-ondernemings.