Die landbou in die algemeen en spesifiek die wynbedryf moet verander om winsgewendheid en volhoubaarheid te verseker, sê mnr. Willie du Plessis, direkteur van landbou by Standard Bank.
Luidens ‘n berig op Fin24.com sê Du Plessis druk op die plaaslike bedryf neem toe soos wat wingerde verouder en mededinging op die internasionale mark toeneem.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het die afgelope 12 jaar aansienlike groei in produksie aangeteken, maar die afgelope jaar ‘n daling van 5% ondervind.
Wit en rooi nie op ideale vlakke
Weens vroeëre druk op die rooiwyn-mark en rooiwyn-pryse, het witwyne dieselfde prysvlakke as rooiwyn bereik, wat baie wynmakers aangemoedig het om op witwyn te fokus. Maar Du Plessis waarsku produsente daarteen om besluite te neem wat slegs op korrtermyn drukverligting fokus.
Volgens Du Plessis verwyder baie wynmakers tans meer wingerde as wat hulle aanplant. “Die aanplanting van wingerde het oor die afgelope vyf jaar met meer as 60% afgeneem. Sowat 82% van alle nuwe wingerde wat aangeplant is, was wit kultivars”. Hy sê ‘n gevolg van die nuwe aanplantings dinamiek en die veroudering van plaaslike wingerde is dat die land se verspreiding van wit en rooi tans nie op ideale vlakke is nie.
Bron: Fin24.com
30 November 2010