
Prof. Johan Willemse, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, sê die wêreld word gekonfronteer deur ’n neiging van stagnerende ekonomie met ’n baie hoë inflasiekoers en die verdeling van ’n Amerikaanse politieke kern en die Chinees-Russiese magskern. “As jy nie saam verander nie, gaan jy ’n dinosourus word.”
Willemse het op die Vrystaatse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) gesê dié faktore bring mee dat daar nie meer van globalisering gepraat word nie, maar deglobalisering wat meebring dat entiteite hulself in magsblokke afsonder. Een bydraende faktor is die heersende Russiese konflik in Oekraïne.
Tekorte aan voedsel begin ontstaan weens onder meer graanpryse wat op baie hoë vlakke gaan bly.
Die uitwerking van die kommoditeitspryse het ’n verlammende uitwerking op die veebedryf.
“Hoender- en varkvleisproduksie, asook voerkrale word nie meer winsgewend bedryf nie. Dit maak nie meer geld nie. Die globale verandering vind al hoe vinniger plaas en dit benadeel die landbou en die veebedrywe.”
Volgens hom sal veeboere moet oorweeg om hul speenkalwers van die veld af te bemark pleks van deur voerkrale, want dit gaan te duur word om diere intensief te voer.
Sy verwagting is dat rentekoerse met ’n verdere 2 tot 3 persentasiepunte sal styg, wat die verbruiker sal raak. Vinnige kostestygings sal innoverende oplossings van die saai- en veebedryf verg.
Dr. Theuns Laas, ondervoorsitter van die nasionale RPO, sê ten spyte van die stygende insetkoste gaan dit goed met die rooivleisbedryf. “Daar heers uitstekende vleispyse vanweë ’n gunstige vraag na vleisprodukte. Ten spyte van die uitvoerverbod weens bek-en-klouseer word sowat 5% van die diere wat by abattoirs geslag word, steeds uitgevoer – veral na lande in die Midde-Ooste. Die uitvoerders is onafhanklike ondernemers wat bande het met bestemmings wat nie streng voorwaardes oor dieregesondheid het nie.”
Volgens hom sal die voorgestelde statutêre heffing vir die bedryf wat teen November 2022 gefinaliseer behoort te word, sal die besluitneming ten bate van die bedryf vaartbelyn maak.
Die vooruitsigte vir diereproduksie vir die res van 2022 lyk ook goed met ’n herstel in skaap- en beeskuddes danksy die gunstige toestande die afgelope jaar.