
Dit beteken ’n duidelike skeiding tussen die rolle van die eienaar van die infrastruktuur, die nasionale hawe-owerheid, die terminaalbestuur en Transnet se haweterminale. Dit beteken ook dat elkeen nou onafhankliker en doeltreffender bedryf sal word, met die verdere voordeel dat die private sektor ook kan saamwerk met die regering om hierdie visie in die praktyk neerslag te laat vind.
“Vinpro is veral optimisties dat die inkomste wat gegenereer word, teruggeploeg sal word as belegging in die hawe-infrastruktuur, die vervanging van ou toerusting en die vernuwing en uitbreiding van die hawens, asook bedryfskapitaal,” sê mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro.
Kaapstadhawe is strategies vir die wynbedryf geleë op een van die besigste internasionale skeepsroetes. Suid-Afrikaanse wynuitvoer verteenwoordig bykans die helfte van sy totale produksie en het 330,2 miljoen liter beloop in die jaar geëindig 28 Februarie 2021, wat ’n 6%-groei in volume op ’n jaargrondslag verteenwoordig. Van hierdie uitvoer is 41% verpakte wyn en 59% grootmaatwyn.
Brittanje, Duitsland, Nederland, Amerika en Swede is die topvyf markte vir Suid-Afrikaanse wyn, met ’n totale uitvoerwaarde van ongeveer R9 miljard, die tweede meeste van enige Suid-Afrikaanse landbouproduk.
PROBLEME
Basson sê die wynbedryf ervaar steeds verskeie bedryfsprobleme by die Kaapstadhawe, nie net met uitvoer nie, maar ook die invoer en aflaai van onder meer verpakkingsmateriaal soos wynbottels vir die huidige seisoen. “Ons kan nie enige oponthoud bekostig nie, aangesien dit ’n rimpeleffek het op die bemarking van die 2021-oes en helaas ook die uitvoer van wyn, wat juis nou gedurende die somerseisoen van die Noordelike Halfronde voorkeur moet geniet.”
’n Gebrek aan toerusting en mannekrag, vertragings weens slegte weer, ’n opeenhoping weens ondoeltreffendhede en die verbyvaar van houerskepe weens ’n hawe wat nie optimaal funksioneer nie, is van die strategiese probleme wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf tans rondom uitvoer ondervind. Vinpro werk saam met ander landboubedrywe en verteenwoordigende liggame soos Agri SA en Agbiz en bly deurlopend in gesprek met die ministers van landbou, vervoer en openbare ondernemings, die Wes-Kaapse regering asook die bestuur van Transnet rondom die probleme met die in- en uitvoer van wyn en ander landbouprodukte.
“Vir die wynbedryf om te herstel en groei is dit op kort termyn belangrik dat die hawe optimaal en so doeltreffend moontlik bedryf moet word. Daarom moet daar strukture wees om seker te maak besigheid verloop glad. Op lang termyn wil ons sien dat doeltreffend belê word in nuwe toerusting, asook die vernuwing en uitbreiding van die hawe. Dis noodsaaklik dat ons ’n doeltreffende hawe het wat ten volle in bedryf is om die ekonomie van Suid-Afrika te laat groei en nuwe werkgeleenthede te skep.”