
Mnr. Simphiwe Ntombela, bedryfshoof van die OBP, het ’n groep joernaliste vandeesweek op ’n toer van die projek geneem om die vordering met die nuwe ontwikkeling te gaan wys. Landbouweekblad het in Desember verslag gedoen oor die OBP se plan om die GMP-produksieaanleg op te rig. Die maatskappy het gesê hy hoop om teen 2021 die projek af te handel.
Ntombela het tydens die toer gesê van die gedeeltes van die projek wat vir fase 2 geskeduleer is, is reeds weens die goeie vordering by fase 1 ingelyf en die projek is dus op datum om binne die tydsraamwerk wat daarvoor opgestel is, afgehandel te word. “Boonop het die vordering ook meegebring dat die projek binne die begroting bly. Ons hou egter steeds ’n wakende oog om te verseker dat koste nie met ons weghardloop nie,” het Ntombela gesê.
Die GMP-projek is begin nadat die OBP besef het dat sy toerusting en geriewe besig is om te verouder, het Ntombela gesê. “In die verlede is gewag tot toerusting ingegee het, maar ons het besef om volhoubaar entstowwe te kan verskaf moet ons proaktief begin optree. Daarom het ons reeds in 2013 die projek begin beplan en om finansiering by die Tesourie deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aansoek gedoen.”
Die aanvanklike projek sou net meer as R1,2 miljard gekos het, maar Ntombela het gesê deur die projekbeplanning te verfyn kon die OBP daarin slaag om hierdie bedrag eers te halveer en daarna verder te verklein tot net minder as R500 miljoen. “Die Tesourie het daarna R492 miljoen aan ons beskikbaar gestel vir die projek.” ’n Klein gedeelte van die bedrag is aangewend om die OBP se bestaande kwessies rondom die produksie en verspreiding van entstowwe op te klaar en die res is in die projek belê.
Ook tot boere se voordeel
“Met fase 1 het ons drie geboue geïdentifiseer wat aangepas gaan word om onder meer bakteriële en virale entstowwe te produseer en te verpak. Hierdie geboue bestaan reeds sedert 1968 en ons moes derhalwe nuwe strukture en toerusting inbring om aan GMP-standaarde te voldoen. Die fase verloop egter baie vinnig en ons beoog om reeds teen middel 2019 met die volgende fase aan te gaan. Produksie sal nie deur die projek beïnvloed word nie,” het Ntombela gesê. Hy meen dat die oprigting van die projek boere ook gaan bevoordeel.
“Die GMP-aanleg gaan die OBP in staat stel om meer entstowwe vinniger te vervaardig. Daar gaan dus nie meer ’n wagtyd wees vir kritieke entstowwe nie. Omdat ons ook groter volumes met gevolglik voordelige skaalekonomie kan produseer, sal ons in ’n beter posisie wees om hierdie laer koste ook aan boere deur te gee,” het Ntombela gesê.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.