’n Studie van die konsepwet op sekerheid van verblyfreg toon dat dit een van die gevaarlikste stukke wetgewing in die geskiedenis van die kommersiële Landbou in Suid-Afrika is, sê mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap.
Dié konsepwet (wat op 24 Desember vir openbare kommentaar vrygestel is) en ’n sameflansing van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) en die Huurarbeiderwet is, lê veral klem op die regte van plaasbewoners en -werkers en die pligte van grondeienaars ten opsigte daarvan.
Indiensneming daal
Pringle sê die feit dat indiensneming in die kommersië le landbousektor sedert 1994 skerp gedaal het, is grootliks weens regeringsinmenging in die sektor. ’n Studie deur Agri Oos-Kaap toon dat plaaswerkers nie soseer van plase afgesit en uit diens gestel is nie, maar dat werkers wat bedank of sterf eenvoudig nie vervang word nie. “Die drakoniese klousules in die konsepwet sal net die proses verhaas.”
Hy wys daarop dat die konsepwet neerkom op grondonteiening sonder enige vergoeding vir die wetlike eienaar. Sou die wetgewing aanvaar word, sal boere voortaan geen beheer hê oor die aantal mense wat op die plaas kom bly nie.
Almal wat aan die werker verwant is (soos broers, susters, niggies en neefs) kan ook sonder toestemming van die boer hul intrek op plase kan neem. “Dit is ’n resep vir die totstandkoming van informele nedersettings wat ’n bedreiging vir die persoonlike sekerheid en eiendom van grondeienaars is.
“Verskeie ander klousules sal meebring dat plase in kommunale boerderygebiede verander word. Dit gaan ook ’n uitgerekte en duur regsproses verg om plaaswerkers en -bewoners van die grond af te sit indien hulle nie aan die vereistes voldoen om op ’n plaas te woon nie.”
Pringle sê voorgestelde landboudorpies is bloot die begin van sosialistiese landbou in Suid-Afrika. “Dit doen wat pres. Robert Mugabe reggekry het en dié keer sonder grondbesetting − soos in Zimbabwe.”
28 Februarie 2011