Wat is die werklike doel van die voorgestelde verblyfregkonsepwet? vra die TLU SA aan die portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling. Dié organisasie het sy kommentaar oor dié stuk wetgewing op hul webtuiste beskikbaar gestel en sê dié wet maak nie ekonomies sin nie en druis teen internasionale norme in.
Minister Gugile Nkwinti het die tyd vir kommentaar op die konsepwet van 24 Februarie tot 18 Maart uitgestel het – glo weens die groot hoeveelheid kritiek wat daaroor uitgespreek is.
“Die Regering moet vir eens en altyd sê of hy ’n kommersiële landboubedryf in Suid-Afrika wil hê en of hy wil hê dié land moet die enigste land in Afrika wees wat selfvoorsienend is wat voedselproduksie betref. Alle wetgewing moet teen dié agtergrond gemeet word,” aldus die organsasie.
Boere moet beloftes vervul
In hul reaksie sê die organisasie dit lyk asof boere nou moet pa staan vir die verkiesingsbeloftes van huise en werksgeleenthede wat die ANC onlangs aangekondig het. “As die ANC huise en werk belowe, dan moet die ANC dié werk en huise voorsien sonder om die verantwoordelikheid op die reeds oorlaaide skouers van landbouwerkgewers te plaas.”
Volgens die TLU SA moet die Regering besef dat die landbou die ruggraat van enige land se ekonomie is en dat hy moet ophou om met landbou-ideologieë in te meng. Die organisasie sê ook dat landbouwerkgewers nie bereid is om hul grond prys te gee nie, soos wat die wet voorstel.
Minder werksgeleenthede
Intussen sê Agri SA die doelwit van die Regering om met dié wetgewing plaasbewoners van verblyf te verseker, tot onbedoelde gevolge lei, soos ’n volgehoue afname in werksgeleenthede op plase.
“Indien die landbou moet bydra tot meer en beter werksgeleenthede, moet die Regering toesien dat landbouers nie belas word met onsekerhede en koste wat die lewensvatbaarheid van hul boerderye ondermyn nie,” sê die organisasie in ’n verklaring.
Agri SA het Woensdag (16 Maart) ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee gemaak tydens openbare verhore oor kwessies wat plaasbewoners raak.
Hulle het gewaarsku dat die besitsekerheidsprogram ingevolge die Grondwet kompleks en sensitief is en moeilik blyk te wees om te verwesenlik. Dit volg aangesien dit mededingende regte op dieselfde grond moet probeer balanseer.
Ander wetgewing
Agri SA het die tekortkominge in bestaande wetgewing, soos die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg en die Huurarbeiderwet, uitgewys. Hulle het ook kommer oor die konsepwetsontwerp op grondbesit-sekerheid aangeroer.
“Agri SA het gevra vir onafhanklike en omvattende navorsing oor die omvang van en redes vir uitsettings op plase. Die organisasie het ook gepleit vir beleid en wetgewing wat op feite en nie op persepsies gebaseer is nie,” lui die verklaring.
17 Maart 2011